‘Ystermeisie’ speel netbal met kunsbeen

Ná anderhalf jaar se wag het die “ystermeisie” van Despatch weer vir ’n netbalwedstryd uitgedraf – dié keer met haar sport-kunsbeen.


Ná anderhalf jaar se wag het die “ystermeisie” van Despatch weer vir ’n netbalwedstryd uitgedraf – dié keer met haar sport-kunsbeen.

Dít was nóg ’n eerste vir Janecke Schuin (11) van die Laerskool Sonop op Despatch nadat sy in 2016 haar been in ’n fratsongeluk verloor het.

Janecke is tussen twee motors vasgepen en haar regterbeen is so erg beseer dat dit kort daarna geamputeer is.

Sy het daarvan bly droom om weer netbal te speel.

Verlede jaar is haar droom bewaarheid toe sy met ’n spesiale sport-kunsbeen saam met haar maats begin oefen het.

Janecke was Saterdag in die verdedigende posisie van vleuel teen die Laerskool Sunridge in Port Elizabeth op die baan.

Sy is net een keer vir ’n voetfout gestraf, spog Vicki Schuin oor haar dogter.

Volgens Vicki was Janecke baie opgewonde oor die geleentheid en sê sy het baie hard geoefen om dit moontlik te maak.

“Sy het al verlede jaar, toe die netbalseisoen begin het, saam met die span begin oefen, maar is nie gekies vir wedstryde nie. Nou is sy egter meer as reg en ons glo sy gaan net beter raak.

“Ons as ouers se senuwees was gedaan, want ons was nog nooit by die oefeninge nie en het nie geweet wat om te verwag nie. My grootste vrees was dat die been sou seer word.”

Janecke se sport-kunsbeen is juis die afgelope week weer ingestuur vir verstelling. Sy het die been eers Woensdag teruggekry.

“Sy het gespeel asof daar niks fout is nie en het ná die wedstryd nie eens moeg gelyk nie.

“Sy het ’n vrek goeie wedstryd gehad. Sy kan nou net nie meer wag vir die volgende wedstryde nie,” sê haar ma.

You need to be Logged In to leave a comment.