DIE jaarlikse Wings & Wings fees is einde Maart by die Uitenhage-vliegveld aangebied en ’n gedeelte van die fondse wat met toegangsgeld ingesamel is, is aangewend om senior burgers te bederf.
Feesorganiseerder Lourens Kruger en verskeie van die Wings & Wheels borge het besoek gaan aflê by ACVV Aandmymering Tehuis vir Senior Burgers waar daar geskenkpakkies aan die inwoners uitgedeel is.
Tydens die fees is rolstoele aan behoeftiges oorhandig.
Kruger het aan die inwoners gesê alhoewel dit vir bejaardes moeilik is om die buitelugfees by te woon, is die geskenkpakkies ’n gebaar van dankbaarheid teenoor die senior burgers vir die rol wat hulle eens in die samelewing vervul het.
“Ons vergeet nie ons ouer mense nie. Daarom is ons vandag hier, om vir julle te wys ons gee om. Ons is lief vir julle en dankie dat ons kan voortbou op wat julle eens opgebou het,” het Kruger gesê.
Verteenwoordigers van Algoa Steel, Klinicare apteke en Scale Master het saam met die feesorganiseerders die pakkies uitgedeel.