VLERKE, wiele, van die land se bekende sangers en vlieënde 4x4s is wat vanjaar by die BLG Wings & Wheels fees op die Uitenhage-vliegveld gesien gaan word.
Verskeie soorte ligte vliegtuie soos Jabirus, Savannas, Whispers, Ravin, Cessna en Bushbaby sowel as helikopters, sweeftuie, girokopters en mikroligte-vliegtuie gaan op 13 April, uit alle windrigtings by die Uitenhage- vliegveld land om deel te wees van die jaarlikse fees.
Die bekende Redbull/Hella kunsvlieënier Patrick Davidson gaan weereens ’n lugvertoning aanbied.
Wat die vierwiele betref gaan ’n nasionale 4×4 kompetisie, die Algoa Steel Extreme 4×4 Challenge daar aangebied word.
Vir die eerste keer by ’n fees gaan van die 4×4 drywers poog om hulle viertrek-kragmonsters “vlerke te gee”. Hulle gaan in een van die spesiaal ontwerpte hindernisse ’n 360 grade “bollemakiesie” in die lug probeer maak!
Ander wiele, wat op Moeder Aarde gaan bly en by die fees ’n draai gaan maak sluit in blink, spoggerige vuurwaens, oud en nuut. Verskeie motorklubs gaan hulle trots by die fees parkeer sowel as ’n paar ovaalbaan-renmotors. Twee- en driewiele gaan daar ook wees, met motorfietsklubs wat dié fees gaan ondersteun.
Waaghalsige feesgangers sal vanjaar weer die geleentheid gebied word om aan tandem-valskermspronge deel te neem.
Vanjaar se bekende kunstenaars sluit in Kurt Darren, Demi Lee Moore, Monique Steyn, Wicus van der Merwe en Elizma Theron. ’n Hele paar plaaslike sangers gaan ook optree.
Vanjaar se begunstigdes van die fees sluit in Drostdy Werkplek, Oosterland, Aandmymering, Uitenhage DBV en die plaaslike gemeenskapspolisiëring.
’n Wings & Wheels-uitstalling van motors en selfs ’n vliegtuig word op Vrydag, 29 Maart by Baywest-inkopiesentrum gehou.
Kaartjies vir die BLG Wings & Wheels is beskikbaar by HTS Daniel Pienaar, Westway Cafe, Algoa Steel, Klinicare apteke op Uitenhage en Despatch en op die dag van die fees by die hekke.
- Vir meer navrae bel Lourens Kruger by 082 320 2615.