Op 26 November om 18:00 swaai
die groot houtdeur van die Hoërskool Despatch oop vir ’n unieke gebeurtenis.
Hoërskool Despatch, in
samewerking met gemeentes, plaaslike leraars, laerskole, die Despatch Mannekoor
en talle inwoners van Despatch, bied ’n visuele ervaring van gebeure ongeveer
2000 jaar gelede in Jerusalem, Nasaret en Betlehem aan. Saam met talle kore kan
die geboorte van Jesus – Die krag van
God in ’n krip – beleef word.
Eerskomende Sondagaand stap die gehoor se gedagtes duisende jare terug, na Jerusalem.
Hulle sal wierook ruik wanneer hulle
instap en die trappies na “Jerusalem” klim. Later, naby “Nasaret”, wag die
bitter reuk van mirre-wierook waar Maria hulle ontmoet.
Dis nie ’n vertoning waar
die gehoor stil sal sit nie. Hulle gaan stap, soos die volk van die Here
destyds moes stap. Agter die deur wag vele verassings en ervarings. Romeinse
soldate, profete, skrifgeleerdes en medegelowiges sal dalk met hulle praat en hulle
selfs verjaag na “Betlehem”.
Die krag van God in ’n
krip sal op Sondag, 26
November, by die Hoërskool Despatch plaasvind. Die deure open stiptelik om
18:00. Toegang is gratis.
Trek gemaklike skoene aan,
bring ’n piekniekkombers en sing saam met die “skaapwagters” op die veld. Die skool
se leerderraad sal vanaf 17:00 eetgoed te kope aanbied. Mense is welkom om
blikkieskos vir behoeftige persone te bring. Dit sal onder deelnemende
gemeentes verdeel word om behoeftige gesinne tydens die Kersseisoen by te
staan.