’n ANGSWEKKENDE groot vuurwolk wat hoog bo geboue in Konstitusieweg op Uitenhage ontplof het, het voetgangers op die vlug gehad en sosiale media platforms laat gons.
Binne minute na die ontploffing was daar ’n spotprent wat die rondte gedoen het met ’n foto van die ontploffing en die woorde “When Osama Bin Laden strikes Uitenhage” daarop.
Die brand en daaropvolgende ontploffing, verlede week Woensdagmiddag omstreeks 17:00, was in Rangers motoronderdele-handelaar se skrootwerf.
“Ons is baie dankbaar daar is niemand beseer of dood nie. Daar is ook geen honde beseer of dood nie. Dit is ook nie brandstigting nie en ook geen versekeringsfoefie nie. Daar is niks van al die snert wat mense op Facebook en WhatsApp kwytgeraak het nie,” sê Terry Ranger, eienaar van Rangers Motor Spares & Engine Reconditioners.
“Die brandweer het ’n fantastiese job gedoen en was baie gou op die toneel. Hulle het verhoed dat die brand na die ou erfenis-geboue versprei. So, baie, baie dankie aan al die brandweermanne en -vroue wat kom help het,” sê Ranger.
Die ou spoorweg-geboue is nasionale ge-denkwaardighede en is in 1904 gebou. Dié geboue is deel van ’n langtermyn-ontwikkelingsplan van die Nelson Mandelabaai ontwikkelings-agentskap.
’n Paar nuuskierige mense wat met hul selfone beeldmateriaal van die brand wou neem het fanaties begin om die skrootwerf se sinkplate af te ruk vir ’n beter uitsig.
“Dit was rof, die mense het soos miere teen die plate opgeklim en hul verlustig in ander se verlies. Ons moes die polisie vra om te kom help met skarebeheer,” sê Mia Smit.
Volgens Ranger het die brand ontstaan terwyl sy werkers op die perseel besig was met opruimwerk.
Kaptein Gerda Swart, woordvoerder van die Uitenhage polisie, het bevestig dat daar geen beserings was nie en dat dit ook nie brandstigting was nie.