JOHANNA Wewers (64) sit haar pen neer, kyk op, en sê met n breë glimlag:
“Om vir die eerste keer my naam te kan skryf … dit maak by hart baie ge-lukkig. Ek kon dit nog nooit doen nie.”
Johanna is een van die studente wat onlangs by die Voorbereidingskool Despatch met lees- en skryf-klasse vir volwassenes begin het.
Die hoof, Madeléne Sachse, het met die inisiatief begin.
“Dit breek my hart om te sien hoe ouers en grootouers ’n kruisie maak op dokumentasie waar hulle handtekeninge verlang word. Hulle kry skaam en vra altyd om verskoning daarvoor.”
Johanna sê dit is so, sy het skaam gekry. “Wanneer ek my naam moes skryf, het ek my voorletters op my eie skeef en krom manier gemaak. Skryf kon ek nog nooit nie.”
Madeléne sê ongeletterdheid hou mense vasgevang in ’n baie klein belewingswêreld. “Maar wanneer dié mense leer lees en skryf, is dit ongelooflik om te sien hoe hulle transformeer in ’n wêreld wat voorheen nie vir hulle bestaan het nie.”
Madeléne het twee jaar gelede met die skoolbeheerraad se toestemming begin om ongeletterde mense te nooi om lees- en skryfklasse by te woon. Dit is ’n gratis diens wat die skool aan die gemeenskap bied.
Aanvanklik was daar geen belangstelling nie. Maar toe, vroeër vanjaar, het die eerste vyf vroue aangemeld vir die klasse. Hulle ouderdomme wissel van 16 tot 65 jaar.
“Dit is só bevredigend, ek doen wat ek die beste doen – ook wat die skool se kernbesigheid is – om ander te leer lees en skryf.
Mense is my passie, as ek kan help voel ek skatryk,” sê Madeléne.
Hierdie studente volg die graad 1 kurrikulum. Alle leesstof en skryfbehoeftes, asook vervoer, word goedgunstiglik deur die Voorbe-reiding Skool Despatch verskaf.
En só help die skool om hoop na volwassenes te bring.
“My siel en my hart is gelukkig, want nou kan ek skryf,” sê Johanna. “My lewe het nuwe betekenis gekry. Juffrou is wonderlik. Sy het vreugde na my lewe op my oudag gebring.
“My kinders en kleinkinders is nie bietjie trots op my nie. Hulle het my leerdery tot op Facebook gesit.”
(VERVOLG OP P. 7)