’n MUNISIPALE gebou waarin 17 verstandelik gestremde inwoners al vir dekades goedgunstiglik woon, onder sorg van die Uitenhage Geestesgesondheid-vereniging, is uit die bloute deur die munisipaliteit gelys vir huur van R15 300 per maand.
Dr. Peter Else, direkteur van Uitenhage Geesgesondheid-vereniging sê dat hy geen amptelike dokument oor dié voorgestelde huur ontvang het nie.
“Ek het aanvanklik gedink dit is ’n April-gek storie toe ek deur die media gekontak is oor dié astronomiese huur. Die eiendom, wat as Huis Lötter Bouwer bekendstaan, word al vir dekades goedguns-tiglik deur die munisipaliteit aan ons gratis verhuur,” sê dr. Else.
“Daar is nie ’n manier dat ons R15 300 per maand vir dié gebou kan betaal nie. Sou die munisipaliteit voortgaan met dié voorgestelde huur, beteken dit dat die 17 verstandelik gestremde inwoners ’n ander heenkome moet kry.”
Uitenhage Geestesgesondheid beskik oor vier eiendomme wat huisvesting bied aan 70 verstandelik gestremde volwassenes. Drie van die huise, Henriëtta Huis, Huis Natali en Mary’s Place behoort aan die vereniging terwyl Huis Lötter Bouwer in Billsonstraat, ’n munisipale eiendom is.
“Ons kom uit ’n finansiële droogte en was verplig om ons kantoor in Henriëttalaan te verkoop. Die staat het ook nou eers hulle agterstallige subsidies aan ons betaal,” sê dr. Else.
Uitenhage Geestesgesondheid se nuwe kantoor is by Victoriastraat 20, langs Henriëtta Huis.
Die dokument waarin die Nelson Mandelabaai munisipaliteit huurders van munisipale geboue teen markverwante huur wil laat opdok, sluit verskeie nie-winsgewende organisasies in. Onder dié eiendomme is die gebou van die Nelson Mandelabaai lewensredders, wat aangedui is vir ’n voorgestelde huur van R61 200 per maand.
Munisipale woordvoerder Mthubanzi Mniki sê die munisipaliteit het geen intensie om nie-winsgewende organisasies met hoë huur te belas nie.
“Huur word vasgestel na uitgebreide onderhandelings en deeglike analisering van huurders se finansiële stand van sake,” sê Mniki.