VLV-vroue maak ’n draai by museum

VROUE van die Vroue Landbouvereniging se Carpe Diem-tak het onlangs besoek gaan aflê by Cuyler Manor, wat deel is van die Uitenhage Museum.


VROUE van die Vroue Landbouvereniging se Carpe Diem-tak het onlangs besoek gaan aflê by Cuyler Manor, wat deel is van die Uitenhage Museum.

Volgens Marietjie van der Walt van dié tak was dit vir die vroue ‘n aangename verrassing om die interessante museum op die dorp se voorstoep te besoek.

“Rosy was die beste toergids wat ons nog teegekom het. Sy het eers vir ons verduidelik hoe die ou werf vroeër gelyk het en vertel van die bokkraal en die bokoppasser, hoe daar rieme gebrei is, hoe die put gewerk het,” sê Van der Walt.

“Ja en dan is daar in die ou dae turksvy-mampoer gestook en die doringoortrekte turksvyvrug is ook gebruik om konfyt te kook en van die turksvyblaaie is ’n heerlike soetkerriegereg, Napolitos, gemaak. Glo my, groenbone se eweknie in smaak.”

Rosy het een van die VLV-vroue aangetrek soos in die ou dae, uitgevat in ’n lang rok met onderrok, voorskoot, kappie en al. Sy het die res van die vroue namens “Ouma Cuyler” by die Kaaps-Hollandse huis se voordeur ontvang.

Die vroue is deur die huis geneem en al die antieke ware in die verskillende vertrekke is uitgewys en hul stories is vertel.

Rosy het breedvoerig aan die vroue verduidelik en gedemonstreer hoe om ‘n kers te maak.

“Dit was ’n genoeglike en verrykkende besoek en ons kon met deernis terugdink aan ons voorgeslagte wat niks weggegooi het nie maar alles verwerk het om liggaam en siel aanmekaar te hou.

“Hulle moes die winters sonder elektrisiteit trotseer, daarvoor was die bulsak en al die slim uitgedinkte planne daar.

“Miskien, net miskien, moet ons weer een-dag ons eie kerse begin maak,” sê Van der Walt.

Rosy het die VLV-vroue ook onthaal met heerlike varsgeroosterde roosterkoek met tee en koffie. – VERSLAGGEWER

You need to be Logged In to leave a comment.