DIE Vroue Landbouvereniging se Acqua-tak, tans die grootste van al 164 takke in die Kaapprovinsie en een van die 14 takke in die Middelland-streek, maak reg vir hulle Krismis in Julie wat eersdaags gehou word.
Al vergader dié tak in die Baai, is lede vanoor die hele metropool.
“Ons tak is baie betrokke in die gemeenskap deur goedheid en guns te bewys om nood te verlig,” sê Natania Schmidt, voorsitter van VLV Acqua.
By die Krismis in Julie fondsinsameling, wat vanjaar vir die tweede agtereenvolgende jaar aangebied word, is 25 stalletjies wat nie net dekor, klere en kuns te koop sal bied nie, maar ook juweliers-ware en tuisgebak. Die Kersmark word op Vrydag, 6 Julie en Saterdag, 7 Julie, in die Walmer Stadsaal gehou.
“Besoekers sal nie honger en dors ly nie, want ‘n teetuin met heerlike eetgoed sal selfs die grootste smulpaap tevrede stel,” sê Natania.
Dié fondsinsameling is nodig omdat Acqua-tak betrokke is by verarmde bejaardes wat maandeliks bygestaan word met kruideniers-ware, begrafnispolisse en mediese behoeftes. Daar word ook maandeliks kruideniersware geskenk aan drie laerskole wat voedingsprojekte bestuur om honger leerders en hul gesinne van hulp te wees.
Hulle staan ook die DAC (Domestic Animal Care) met kos vir die diere, koerantpapier en selfs donasies vir hul veeartsrekeninge.
- Om dié Krismis in Julie by te woon, gaan jou R10 uit die sak jaag en laerskoolleerders betaal slegs R5.