DIE Vroue Landbouvergadering se Despatch-tak gaan met hulle volgende vergadering meer hoor oor inheemse droogtebestande plantsoorte vir waterbesparende tuine.
Die gasspreker is Ursula le Roux en sy sal oor die voordeel van inheemse waterwyse plante soos vetplante en kaktusse in tuine gesels. Dié plante het taai eienskappe, juis om in droër toestande te floreer en hulle kan geïdentifiseer word deur hul wasagtige, sappige en harige voorkoms.
Alhoewel inheemse plante gewoonlik minder instandhouding vra as eksotiese plante, is nie alle inheemse plante droogtebestand nie. Ander voordele van inheemse plante is dat hulle inheemse voëls, wilde lewe en insekte lok en dié plante is dikwels van medisinale waarde.
Heel gepas word die vergadering by die Fun In The Sun kaktus-kwekery op Totteridge-plaas, net buite Despatch gehou.
- Belangstellendes is welkom om die vergadering by te woon op Donderdag, 25 April om 16:00. Bevestig bywoning deur vir Juby te bel by 082 823 9972.

