DIE Vroue Landbouvereniging se Carpe Diem-tak op Uitenhage is as die algehele wenner uit 14 VLV-takke aangewys tydens Sirkel Middelland se 85ste konferensie.
Dié vyfster swier-geleentheid is by die Sun Boardwalk-konferensiesentrum aangebied deur VLV Aqua-tak.
Volgens VLV Carpe Diem voorsitter, Elsje Ferreira, is dit dié tak se derde agtereenvolgende jaar dat hulle as Sirkel Middelland se wen-tak aangewys word.
Die VLV se tema vir die jaar is “Laat ’n Voetspoor” ten opsigte van die bewaring van die aarde, instandhouding van goeie verhoudinge en die omsien na ’n gesonde liggaam en gees.
By die konferensie is daar 34 trofeë tydens die prysuiteling oorhandig. VLV Carpe Diem het die meeste punte verwerf in die VLV-kompetisies met VLV Alexandria in die tweede plek.
VLV Carpe Diem ontvang ’n totaal van 9 trofeë vir 5 eerste plekke, 2 tweede plekke en 2 derde plekke.
Dié trofeë is vir die tak se uitstaande gebak, gebottel, blommekuns, borduurwerk, hekelwerk, breiwerk en meeste punte. Daarby word hulle aangewys as die algehele wenners en as die tak met die mees innoverende projek.
“Dié innoverende projek is ons ‘palmpoppies’. Ons het palmpoppies met oorskietwol gebrei vir kinderslagoffers van seksuele misdade of mishandeling,” sê Ferreira.
Dit word “palmpoppies” genoem omdat ’n poppie presies in die handpalm van ’n kind pas. Die palmpoppies gaan onder meer aan die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe ge-skenk word. Daar is spesifiek 85 van dié poppies gebrei omdat dit vanjaar VLV Kaapland se 85ste bestaansjaar is.