’n MAN se toewyding om gemeenskappe te inspireer om voetspore van bewaring en verdraagsaamheid teenoor die natuur agter te laat het hom die Vrouelandbou-vereniging se gesogte Juweel-toekenning besorg.
Die toekenning is tydens VLV Sirkel Middelland se 85ste konferensie deur Lynette Martin aan Charlie Josephs oorhandig. Die konferensie is in die Baai by die Sun Boardwalk gehou.
Met die toekenning gee die VLV erkenning aan ‘n persoon in die gemeenskap wat deur leierskap en vrywillige diens hulle omgewing en gemeenskap ophef.
Josephs is die bestuurder van die Mayibuye Ndlovu Development Trust (Laat die Olifante Terugkom) wat in Colchester gesetel is. Die Trust sluit agt gemeenskappe om die Addo Nasionale Olifantpark in en het ten doel om gemeenskappe op te hef ten opsigte van natuurbewaring, opvoeding, kuns, musiek, sport en landbou. – HEILIE COMBRINCK