DIE Vrouelandbou-vereniging se Carpe Diem-tak op Uitenhage gaan met hulle volgende vergadering meer hoor oor “Plastiek ons Vyand”.
Plastiek is nie bio-afbreekbaar nie. Sonlig breek dit wel oor ’n tydperk slegs in kleiner stukkies op totdat dit uiteindelik plastiekmolekules word, maar dit “verdwyn” nooit nie.
Navorsing oor strandvullis aan die Suid-Afrikaanse kuslyn het gewys dat daar meer as 3 000 klein stukkies plastiek in ’n enkele vierkante meter seesand is.
Die skokkendste is dat Suid-Afrikaners die hoofbesoedelaars is van meer as 3 500 km kuslyn waar sowat 13 000 mariene spesies voorkom, waarvan 33% nêrens elders in die wêreld voorkom nie.
Die Verenigde Nasies se omgewingsprogram bereken dat ‘n miljoen seevoëls en 100 000 seesoogdiere en seeskilpaaie elke jaar as gevolg van plastiek vrek.
Die gasspreker tydens die VLV-tak se openbare sake vergadering is Melinda Labuschagne.
’n Demonstrasie oor hoe ’n ECOBRICK gemaak word, sal ook tydens die vergadering gedoen word.
Die vergadering word op Donderdag, 16 Mei om 09:30 in NGK Winterhoek se kerksaal gehou. Alle belangstellendes is welkom om dit by te woon. Bevestig bywoning by een van die onderstaande persone.
- Vir meer inligting bel Elsje Ferreira (voorsitter) 041 922 7522 of Joey Fourie 082 824 7986. – HEILIE COMBRINCK