=Die vlugbalspanne van PE College en Volkswagen in aksie. Foto:VERSKAF


VLUGBAL van hoogstaande gehalte het verlede naweek die skare op hulle voete gehad in ’n volgepakte Rosedale-gemeenskapsaal waar die Burgemeester Trofee se semi-finale wedstryde beslis is.

Dit was veral die dames vlugbal se semi-finale wat vir groot opwinding gesorg het. Die spanne van Nelson Mandela Universiteit, Flames, Volkswagen en Nelson Mandela Munisipaliteit het sake uitgespook vir ’n plek in die finaal.

Die spanne van Nelson Mandela Universiteit en Volkswagen was die uiteindelike wenners wat hulle plek in die finale vasgemaak het.

“In die mansafdeling verdien die spanne van Gelvandale en Flames vlugbalklubs vermelding. Hierdie nuwelinge het tot in die uitspeel groepfase gekom,” sê Andrew Prins van die Nelson Mandelabaai Vlugbalunie.

Die vier mansspanne wat in die semi-finale kragte gemeet het was Flames, Gelvandale, PE College en Volkswagen.

Die hoogtepunt van die dag was ongetwyfeld die mans semi-finaal tussen die 2017 bekerhouer, PE College en die naaswenners, Volkswagen.

“Dié wedstryd het aan al die verwagtinge voldoen. Emosies het somtyds hooggeloop tussen die twee spanne, waarvan een ’n plek moes verseker in die finale.

“Die wedstryd is egter goed hanteer deur skeidsregters Deon Daniels en Granville Widget,” sê Prins.

Volkswagen het die aanskoulike wedstryd gewen en gaan in die finaal teen Gelvandale Vlugbalklub speel wat met Flames afgereken het.

Die semi-finale wedstryde is bygewoon deur ’n delegasie van die Oos-Kaapse sport-raad onder leiding van Freddie Makoki, president van dié raad.

“Vlugbal is besig om sy status te herwin as een van die top sportsoorte in Nelson Mandelabaai. Daar word met groot afwagting uitgesien na die afskop van die plaaslike liga,” sê Prins.

Die finale wedstryd om te bepaal wie vanjaar die Burgemeesters Trofee vir vlugbal gaan ontvang word hierdie Saterdag, 9 Februarie, in die Rosedale-gemeenskapsaal ge-speel.

Gemeet aan die spelstandaard van die semi-finale, beloof die finale om van uitstaande gehalte te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.