’n VROU wat met vleitaal inwoners van Uitenhage en Despatch oorreed om “goedkoop” vleis, kaas en melk by haar te koop, het reeds duisende rande met dié slenter in haar sak gesteek.
Polisiewoordvoerder kaptein Gerda Swart sê, “daar is mense wat liggelowig is en as hulle hoor items soos vleis, melk of kaas is baie goedkoop, is hulle ore gespits en verloor hulle hul sin vir goeie oordeel.”
Volgens kapt. Swart het die middeljarige vrou Sondag, 11 November omstreeks 20:00 by ’n huis in Caledonstraat, Uitenhage, toegeslaan.
“Sy is met R600 kontant daar weg sonder dat die koper die vleis, melk en kaas ontvang het.”
In ’n voorval op Maandag, 19 November het vermoedelik dieselfde vrou in Despatch toegeslaan en met haar vleitaal R1 100 ge-vat sonder dat sy die vleis aan die kopers oorhandig het.
Volgens kapt. Swart is die vrou se modus operandi dat sy by huise opdaag, oënskynlik baie van die inwoners se doen en late weet, oorvriendelik optree en intimiderend mense oorreed om goedkoop vleis, melk of kaas by haar met kontant te koop. Nadat sy die geld ontvang het verlaat sy die huis om blykbaar die items te gaan haal, maar verdwyn dan met die kontant.
’n Saak van diefstal onder valse voorwendsels is by die Uitenhage polisie gemaak. ’n Beroep word gedoen op mense wat ook onder die slenter deurgeloop het om ’n saak by hul naaste polisiekantoor te gaan maak. – HEILIE COMBRINCK