Die 2023 Dux-leerder van die Hoërskool Brandwag is onlangs tydens die skool se prysuitdeling aangewys.
Vian Schoombie is nie net vanjaar die algehele beste presteerder in graad 12 nie, hy was ook gedurende sy hoërskoolloopbaan elke jaar en elke kwartaal die toppresteerder in sy jaargroep. Vian het ook in baie gevalle gedurende sy hoërskooljare die hoogste gemiddelde punt in die skool behaal.
Hy het by die 2023 prysuitdeling weggestap met die Christo van Rensburg-beker vir die Dux-leerling in matriek. Vian is familie van Van Rensburg, ’n Brandwag oudskolier, wat vroeër jare internasionaal bekend was vir sy prestasies op die tennisbaan en onder meer aan Wimbledon deelgeneem het.
Vian het ’n merietetoekenning vir Afrikaans Huistaal (91%) ontvang, asook merietetoekennings en die Brandwag-pryse vir die beste prestasie in English First Additional Language (91%), Rekeningkunde (97%), Fisiese Wetenskap (97%), Ingenieursgrafika en Ontwerp (98%) en Wiskunde (99,5%). Hy het ook weereens erekleure vir akademie verwerf met ’n gemiddelde jaarpunt van 95,5%.
Vian beplan om volgende jaar megatroniese ingenieurswese aan die Noord-Wes Universiteit op Potchefstroom te studeer.