Verpleegster vereer vir 30 jaar diens

DIE passie om siekes en swakkes te versorg is die afgelope 30 jaar die dryf vir stafverpleegster Michelle Fourie (51) om getrou op haar pos te wees.


DIE passie om siekes en swakkes te versorg is die afgelope 30 jaar die dryf vir stafverpleegster Michelle Fourie (51) om getrou op haar pos te wees.

Netcare Cuyler Hospitaal op Uitenhage het verlede week erkenning gegee aan Michelle. Sy is die afgelope 12 jaar daar werksaam en was voorheen vir 18 jaar verbonde aan Netcare Greenacres Hospitaal.

“Om 30 jaar diens te lewer is ’n prestasie. Maar as dit by dieselfde maatskappy is, is dit net soveel meer van ’n uitsonderlike prestasie,” sê Gert Opperman, Netcare Cuyler Hospitaal se personeelbestuurder.

Michelle is soos ’n ware Florence Nightingale, wat ’n geruste hart bied vir pasiënte wat gespanne hul beurt moet afwag om die operasiesaal ingestoot te word. Sy werk in die voortoelatings-afdeling vir die afgelope 10 jaar. Dit nadat sy in 1988 as groentjie-verpleegster haar kennis begin opdoen het in die chirurgie-afdeling by Netcare Greenacres Hospitaal.

“Ek geniet dit verskriklik om die teatergevalle te sien voordat hulle ingaan vir ’n operasie. Voortoelatings is my lewe. Ek hou van mense. Elkeen is so anders maar tog so eenders in hul bangheid voor ’n operasie,” sê Michelle.

“Daar is baie mense wat vreeslik bang is vir operasies. Dan praat ek sommer oor allerhande dinge en so praat ek hulle skoon uit hul bangheid uit.”

Sy vertel dat verpleging, in die dae toe sy begin het, baie harder werk was.

“Jy moes alles doen, van panne en slobemmers skoonmaak tot beddens was. En as jy ’n bed moes was beteken dit jy moes tot die wieletjies was. Nou is daar algemene assistente wat die skoonmaakwerk doen en verpleegsters sien hoofsaaklik om na pasiënte.”

Michelle sê haar lewenleuse is “wees net jouself en straal jou liefde uit na ander.”

Sy is ’n gebore Uitenhager, maar woon deesdae op Despatch.

You need to be Logged In to leave a comment.