Verlate Despatch Museum geplunder

DESPATCH Museum is in ’n skandelike toestand.


DESPATCH Museum is in ’n skandelike toestand.

Erfenisstukke is oor ’n tydperk selektief uit die museum verwyder en vandale het dit ’n teiken van plundery gemaak. Waar eens waardevolle items van geskiedkundige waarde gestaan het is daar nou menslike ontlasting.

“Sedert daar nie meer ’n opsigter is nie het die plek agteruit gegaan en begin deurloop onder kwaaddoeners. Die dorp se erfenis is ge-skend,” sê Frans Swanepoel, ’n plaaslike sakeman wat die belange van die dorp op sy hart dra.

“Die oorspronklike slot by die deur is verwyder en iemand het ’n ander slot aangebring. Dié slot is geknip en daarna is ’n ander slot en ketting aangebring wat binne ’n week óók geknip is.”

Volgens Swanepoel is daar heelwat erfenisstukke skoonveld wat onvervangbaar is. Onder dié stukke is die drie groot plakboeke waarin alle dorps-artikels geplak is sedert die ontstaan van Despatch in 1945. Die oorspronklike burgemeestersketting het ook voete gekry.

“Wie gaan daardie plakboeke vat en hoekom? Die boeke is groot, omtrent ’n meter lank, dik en baie swaar. Die héle geskiendenis van Despatch is nou weg.

“Vandale sou beslis nie dié boeke gevat het nie, tensy hulle baie graag alles oor die dorp se geskiedenis wil oplees.

“In die sport afdeling is net Johan Botha, ons Protea-krieketspeler, se krieketklere weg. Die ou Suid-Afrikaanse oranje-blanje-blou landsvlag is weg. So-ook ’n ou geweer en saalsak wat uit die Anglo Boere-oorlog kom. Die goed was deel van die De Mist Kommando se versameling,” sê Swanepoel.

Die koperplaat van die bekende Totteridge-huis wat ’n nasionale gedenkwaardigheid was voordat dit afgebrand het, is ook weg.

“As ek so kyk na van die goed wat weg is kry ek die idee dit mag dalk iewers in iemand se kroeg of braaiplek hang,” sê Swanepoel.

Volgens hom is daar ’n alarm geinstalleer maar dit is nie geaktiveer nie. Atlas sekuri-teit het hom ses maande gelede gekontak en aangebied om kameras aan te bring en om gratis dié museum te monitor.

“Daarvoor moes ek ’n amptelike brief van die munisipaliteit kry vir toestemming om dié sekuriteit en kameras aan te bring. Niemand kon of wil my help nie,” sê Swanepoel.

Raadslid Francois Greyling sê, “die hele situasie met die Despatch Museum is nie regtig iemand se skuld nie. Nadat die museumkomitee ontbind het, het dinge agteruit gegaan en die res was ’n sameloop van ’n reeks onvoorsiene gebeure.”

Hy het bevestig dat Atlas-sekuriteit aangebied het om op hulle onkoste ’n alarm en kameras in die museum aan te bring en om dit gratis te monitor.

“Die gebou behoort aan die munisipaliteit en is in ’n goeie toestand. Die probleem is die inhoud behoort aan die nasionale erfenisraad en nie meer aan die mense wat dit ge-skenk het nie.

“Dit val onder provinsiale bemagtiging en is buite ons beheer. Ons mag die inhoud nie verwyder nie, ons moet húlle toestemming kry,” sê Greyling.

“Die museum is nie my verantwoorde- likheid nie. Probleme het begin toe die museumkomitee ontbind het. Hulle het gesê mense stel nie meer belang om dit te besoek nie. Boonop was daar ook nie meer fondse om dit aan die gang te hou nie. Daarna het hulle die sleutels by ons kantoor afgegee.”

Greyling sê hy sal wykskomiteefondse bewillig indien ’n museumkomitee weer op die been gebring word.

“Daar is baie werk agter die skerms gedoen om die situasie te help beredder. Daar is ook ’n voorstel ingedien dat in die volgende munisipale begroting geld beskikbaar gestel moet word vir die Despatch Museum.

Kaptein Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, sê Despatch polisiestasie het bevestig dat ’n saak van inbraak by ’n besigheidsperseel gemaak is.

  • Enige persoon wat oor inligting beskik oor die inbraak word versoek om die Despatch speurtak te kontak by 041 933 8000

You need to be Logged In to leave a comment.