VALLEY’S Rising Music is Saterdagaand op die Bloemskou vir die tweede agtereenvolg-ende jaar as die Suid-Afrikaanse grootkampioensaalperd in die vyfgangklas aangewys.
Hy is die topklas-saalperdhings van Irene van der Westhuizen van die Mountain View-stalle by Summerville in die Sondagsriviervallei.
Die vyfgangklas is die prestigerykste klas in die Suid-Afrikaanse saalperdkampioenskappe, die grootste buitelug-kampioenskappe ter wêreld.
Valley’s Rising Music se sege was die hoogtepunt oor die vier dae.
Die mededinging in die verskillende klasse tussen saalperde, saalperdvertoners, -afrigters en -eienaars was baie straf.
“Dankbaar. Net dankbaar,” het Van der Westhuizen ná die sege gesê.
“ ’n Mens kan nie vooraf weet of jou perd gaan wen nie,” sê sy.
Van der Westhuizen het 37 jaar gelede saam met haar familie ’n saalperdstoetery begin deur saalperde van Amerika af in te voer.
“Valley’s Rising Music is self geteel en is op Kersdag 2010 gebore.
“Hy is tot op hede ons grootste geskenk en is die uitsoekproduk van ’n lang teelproses. Sy pa was die talentvolle Nataniel Valley’s Rising Sun (uit die legendariese Valley’s Cloudburst) en sy ma die ingevoerde My Snapdragon.
“My Snapdragon is in Amerika uitgesoek om die Mountain View-bloedlyn te versterk.”
Sy sê hy is verder ’n kombinasie van goed beproefde bloedlyne, soos dié van Firefly Wing, Hi Wing, Maggie o Lee, Supreme o Lee, Chattanooga en Yorktown.
Die resultaat is ’n nuwe genepoel van die heel beste wat daar is.
“Hy is sportief, uitermate atleties en het ’n fenomenale bewegingstyl, vertoon sterk, manlike eienskappe en is die toonbeeld van uitsonderlike gehalte,” sê Van der Westhuizen.
Valley’s Rising Music se vulletjie, Music Maker, het Vrydag die futuristiese klas op die Bloemskou gewen en R100 000 aan sy eienaar besorg.