Twaalf gerehabiliteerde uile vrygelaat in natuur

GERUISLOOS het twaalf gevlekte ooruile skemertyd een vir een hul vlerke gesprei en uit hul skadunet-skuiling gevlieg om die vryheid van die veld te beleef.


GERUISLOOS het twaalf gevlekte ooruile skemertyd een vir een hul vlerke gesprei en uit hul skadunet-skuiling gevlieg om die vryheid van die veld te beleef.

Arnold Slabbert van Wildline – ‘n stedelike kleinwildbewaringsgroep – sê dat vir die helfte van dié uile wat nou in Nelson Mandela Universiteit se natuurreservaat vrygelaat is, is dit ‘n eerste ervaring in die wild.

“Hulle het as kleintjies by ons aangekom en is, óf deur mense opgetel óf hulle is uit neste gesteel en die mense kon nie vir hulle sorg nie. Die ander helfte was óf vergiftig óf beseer en is by ons sentrum gerehabiliteer,” sê Slabbert.

“Vergiftiging van uile het die laaste vier jaar dramaties toegeneem in die metropool. Die ergste is dat meeste van dié vergiftigde ooruile wat inkom, nie gered kan word nie en weens onder meer interne bloeding ‘n wrede dood sterf.

Maar as hulle ‘n klein dosis rottegif ingekry het, kan ons hulle behandel en staan hulle ‘n kans om dit te maak.”

Wildline het oor die jare verskeie kleinwild en roofvoëls by die NMU reservaat losgelaat. Die voëls se skuiling is verlede jaar tydens die verwoestende brande vernietig en ‘n nuwe hok moes gebou word.

“Weens die droogte het die uile langer as gewoonlik in ons hokke by Wildline gebly. Maar die plek is beperk en hulle moet nou oorleef in die wild.

=Arnold Slabbert help een van die gevlekte ooruile wat huiwerig is om die skadunet-skuiling te verruil vir die natuurreservaat.

“Die uile kry ‘n goeie gebalanseerde dieët en omdat hulle so lank op hok was, is dié klomp gemiddeld so 400 gram swaarder as die beseerde wilde uile wat by ons inkom.

“Al ons uile word gering en gewoonlik sit ons so tussen 7 en 8 millimeter ringe om ‘n uil se been, maar met hierdie klomp het die 8 millimeter ringe styf gesit. Hulle beenstruktuur is baie sterker weens die lang tyd en goeie dieët in die hok.”

Die uile word gemonitor en Slabbert sê uit 10 vrygelate uile kry hy gewoonlik 2 of 3 terug wat sukkel of êrens dood gevind word.

“Met jong roofvoëls wat vrygelaat word, is die sterfgetal hoog. Net die sterkes oorleef, dit is ongelukkig hoe dit in die natuur werk.

“Jong roofvoëls boet met hul lewens want hulle doen dom dinge. Die afgelope week het ek drie jong valke ingekry wat teen vensters vasgevlieg het. As dit so koud is, word hulle ontsettend honger en hulle jagvernuf is nog nie goed nie, so hulle vlieg teen drade en vensters vas,” sê Slabbert.

Die nuwelinge wat in die reservaat vrygelaat is, moes op hul eerste nag in bittere koue en ‘n sterk wind hul kos gaan jag én het waarskynlik ook die wind van voor gekry deur die gevestigde uile.

Volgens Slabbert is uile territoriaal, ge- volglik word nuwelinge nie deur die gevestigde uile verwelkom nie en maar eerder as indringers beskou.

You need to be Logged In to leave a comment.