SAMUEL “Sampie” Marais is aangestel as die nuwe skoolhoof van HTS Daniel Pienaar op Uitenhage.
Marais is ‘n Tier in murg en been. Hy het die senior fase van sy skool-loopbaan by die skool voltooi en is in 1984 as Technika Elektries-onderwyser by HTS Daniel Pienaar aangestel. In 1992 is Marais tot departementshoof bevorder en in 2015 het hy die leisels as adjunkhoof oorgeneem. Hy het as skoolhoof waargeneem sedert die aftrede van die vorige skoolhoof, Nico Claassen.
Daniel Pienaar lê die Marais-gesin na aan die hart want die nuwe skoolhoof se vrou onderrig al jare lank Engels by die skool en is ook ’n vakhoof. Twee van die egpaar se seuns is ook Tiere. Dieter, ’n hoofleier, is in matriek en Karel Otto is in graad 9. Hul jongste, Conrad, is nog op laerskool maar tel die dae totdat hy ook sy streepbaadjie kan aantrek.
Marais sê sy visie vir HTS Daniel Pienaar is dat die skool waardege-drewe, toonaangewend en innoverend van aard sal bly en dat die trotse tradisies van 123 jaar uitgebou sal word.
“Ons wil daarop voortbou dat leerders, ouers, onderwysers en veral oudskoliere en ondersteuners betrokke bly en tuis voel by Daniel Pienaar en deel bly van die Tierfamilie,” sê Marais. – VERSLAGGEWER