BRUGBOUERS van HTS Daniel Pienaar het weer hulle siviele ingenieursvernuf gewys en deurgedring na die SA brugbou-kampioenskappe.
Dit was die 14de keer in 17 jaar dat DP die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs se brugbou-trofee in die Oostelike Provinsie Brugboukompetisie gewen het.
DP se twee beste brugbou-spanne, bestaande uit drie leerders per span, moes elk ‘n brug ontwerp en bou met ’n spanlengte van 600mm en ’n minimum breedte van 100mm.
Twaalf Oos-Kaapse spanne het deelgeneem en DP se spanne was onderskeidelik die wenners en naaswenners.
Die wenspan, bestaande uit Dylan Willet, Veandré Frazenburg en Janu Ferreira, se brug het 108 gram geweeg en kon ’n gewig van 82kg dra. Hulle het elk R150 prysgeld gekry sowel as vliegkaartjies na Johannesburg waar die SA brugbou-kampioenskappe in September gehou word.
Die naaswenners, Takudzwa Chari, Ryno Potgieter en Tiaan van Jaarsveld se brug het 115 gram geweeg en het ’n gewig van 50kg ge-dra.
Hulle brug is ook aangewys as die mees estetiese brug.