Tiere klas van ‘69 hou reünie

HOENDERJOKKIE, Botterkop, Gomtor, Aprilvlieg, Vetkoek … dit is maar ’n paar byname van die Tiere se klas van 1969 wat vanjaar hulle 50ste reünie op Uitenhage gaan vier.


HOENDERJOKKIE, Botterkop, Gomtor, Aprilvlieg, Vetkoek … dit is maar ’n paar byname van die Tiere se klas van 1969 wat vanjaar hulle 50ste reünie op Uitenhage gaan vier.

Aan die stuur van die reünie-sake is Paai, bekend as Ernest Dyer vir dié wat nie by HTS Daniel Pienaar (Tiere) op die banke gesit het nie. Hy is ook die stigter van die DP Old Boys Union.

HTS Daniel Pienaar, die oudste (124 jaar) én een van die bekendste tegniese skole in die onderwyslandskap van Suid-Afrika, is in 1895 gestig deur ds. Daniel Pienaar, destydse predikant van NG Kerk Uitenhage Moeder-gemeente. Die reünie-naweek word van 12-14 April gehou.

Volgens Dyer het die DP-klas van ‘69 uit 24 leerlinge bestaan.

“Vier van dié manne is oorlede, twee is op soek en 18 is oor. Op hierdie stadium het meeste van ons groep bevestig dat hulle daar gaan wees. Een van ons werkswinkel-onderwysers, meneer JC Scholtz, sal ook by ons reünie-naweek wees,” het Dyer gesê.

Enige bekende persoonlikhede onder dié jaargroep? “Bekend? Nee, van dié groep is niemand bekend nie, almal is berug!” het Dyer laggend geantwoord.

Daar is twee van dié jaargroep wat Dyer-hulle nie kan opspoor nie, Nico Schoeman en Johannes Janssen van Rensburg alias “Goggles”.

50-Jaar reünie kuieraand

Vir die 50-jaar reüniegroep word daar spesiale hemde gemaak met ’n embleem op die sak. Dié groep gaan ook ’n aansitete (R120/person) geniet op Saterdag, 13 April by die Uitenhage Gholfklub. Pierre van der Westhuizen is die gaskunstenaar.

Die jaargroepe wat tussen 1947 tot 1954 by DP gematrikuleer het word ook uitgenooi na dié ge- selligheid.

Op Vrydag, 12 April word alle oud-Tiere uitgenooi na ’n stigtersdagbyeenkoms die oggend en ’n manne-kuier en steakbraai die aand by die skoolsaal. Terrence Ellis is die gaskunstenaar en kaartjies is R150/persoon.

Saterdag, 13 April word rugbywedstryde teen Hoërskool Framesby gespeel waarna ’n braai vir alle oud-Tiere by die Tiere Klubhuis gehou word.

Sondag, 14 April word ’n spesiale diens gehou deur ds. Fanie Groenewald, wat ook in die klas van ‘69 was.

Verblyf sal in die koshuise beskikbaar wees teen R80/persoon (bed & ontbyt).

  • Vir meer inligting oor die 50-jaar reünie bel Ernest Dyer 083 468 0932; vir inligting oor die algemene DP reünie bel die skool by 041 922 9990.

You need to be Logged In to leave a comment.