tannie bets laerskool sonop
Tannie Bets Gerber is op 15 Augustus oorlede. Sy was welbekend vir haar jarelange diens by die Laerskool Sonop op Despatch. FOTO: ARGIEF

Huldeblyke het van alle kante oor die naweek ingestroom ná die heengaan van Tannie Bets Gerber.

Tannie Bets, steeds welbekend vir haar jarelange diens by die Laerskool Sonop selfs sewe jaar ná haar aftrede, is op Vrydag, 15 Augustus oorlede. Sy was 87 jaar oud.

Welbekend as ‘n dame wat jy altyd deur ‘n ring kon trek, baie onthou haar met netjies geverfde naels, ‘n moderyke uitrusting en nie ‘n haar uit plek nie. En streng, maar altyd regvergdig…

Sy is op 9 Mei 1938 op Kariega (toe nog Uitenhage) gebore.

Só sal sy onthou word

tannie bets laerskool sonop
Tannie Bets Gerber is op 15 Augustus oorlede. Sy was welbekend vir haar jarelange diens by die Laerskool Sonop op Despatch. FOTO: ARGIEF

UD Express het in 2018 met haar 54 jaar by die laerskool gespog, sowel as die diep spore wat sy al op Despatch getrap het.

“Tannie Bets is so jonk van gees en altyd positief,” het Natalie Lombard, een van die skool se sekretaresses, destyds gesê.

Tannie Bets is in 1965 as die eerste sekretaresse by die skool aangestel deur die destydse skoolhoof, mnr. R. du Plessis. In Tannie Bets se vyf dekades by Sonop het sy onder ses skoolhoofde gewerk.

“Jong, onthou net, alles is net genade,” het sy met haar aftrede gesê. Sy het vertel hoe sy in 2003 aftree-ouderdom bereik het by die Departement van Onderwys, maar die skoolhoof in daardie tyd, mnr. T.F. Strydom, het gevra dat sy nog ‘n paar jaar moet aanbly.

“Toe sê ek oukei ek sal. Nou is dit ‘n hele paar jaar later en regtig tyd dat ek moet aftree.”

Sy was 80 toe sy uiteindelik afgetree het.

Sy was elke oggend 05:30 by die skool, en sou haar dag nie kon begin sonder om oggendgodsdiens saam met die werknemers te hou nie. Baie onthou nog die bordjie “Bets Gerber – Tesourier” wat teen die muur by haar kantoor gehang het en die woorde “bid gedurig” wat teen die deur geplak was.

In haar jare by Sonop het sy talle generasies van families deur hulle skooljare sien groei. “Ons lag baie want kinders wat hier was toe ek by Sonop begin het, se kinders bring nou al hulle kinders skool toe! En die meeste van die personeel wat hier werk is gebore in die dae toe ek al lankal hier by die skool begin werk het.” Met haar aftrede was haar eie agterkleinkind nog ‘n leerder by Sonop.

Behalwe dat sy saam met die hoenders gaan slaap en elke oggend dou voor dag opgestaan het, was Tannie Bets ook ‘n voorstander van gesonde lewe. Sy het alles bitter gedrink en elke dag geoefen. ‘n Groot sportliefhebber, Tannie Bets het tennis en muurbal gespeel tot op 65 jaar en het in vroeër jare by Hennie Haggard geoefen.

Sy het haarself ook as ‘n Jack of all trades beskryf tydens haar tyd by die huis – sy het dit geniet om te verf, skrop en skuur en skoffel en plant.

Met haar heengaan het die herinneringe aan Tannie Bets van oral ingestroom. Sommiges selfs van mense wat haar onthou toe hulle in die sewentigerjare skool gegaan het.

“Haar omgee-liefde en bederf het ons almal se lewens kom verryk, want sy het elke mens wat by haar kantoor ingestap het, met dieselfde vriendelikheid, opregtheid en wysheid behandel,” het die Laerskool Sonop in ‘n verklaring op hulle Facebook-blad gesê.

“Geen woorde kan werklik erkenning verleen aan die onbaatsugtige diens wat hierdie legendariese vrou aan Laerskool Sonop en die breër gemeenskap van Despatch gelewer het nie. Dit was ‘n voorreg om saam met haar te kon werk. Sy sal altyd sinoniem bly met Laerskool Sonop! Ons eer haar nagedagtenis.”

’n Laaste koebaai

Tannie Bets word oorleef deur haar seun, Marc; haar vier kleinkinders, Bianca, Thomas, Ruaan en Inge; en agterkleinkinders, Tiaan, Arno, Stephan, Ashton, Annabelle, Christiaan, Abigail en Michael.

Haar gedenkdiens sal op 22 Augustus by die NG Retief Gemeente op Despatch om 11:00 plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.