Tannie Bets (80) groet Sonop na 54 jaar

Vir die afgelope 54 jaar was tannie Bets Gerber ’n bekende by Laerskool Sonop. Gister was haar 80ste verjaardag en die einde van dié maand tree sy af.


Vir die afgelope 54 jaar was tannie Bets Gerber ’n bekende by Laerskool Sonop. Gister was haar 80ste verjaardag en die einde van dié maand tree sy af.

“Jong, onthou net, alles is net genade,” sê Bets Gerber terwyl sy haar goed gemani- kuurde wysvinger na bo wys.

Sy is in 1965 as die eerste sekretaresse by die skool aangestel deur die destydse skoolhoof mnr. R. du Plessis. Die pos het sy vir lank alleen hanteer, maar toe die skool se leerdergetal 600 bereik was dit tyd om nog ’n sekretaresse, Nelia Snyman, aan te stel. Later jare is Elize Steenberg in Snyman se pos aangestel en sy het vir 27 jaar saam met Gerber gewerk. In Gerber se vyf dekades by Sonop het sy onder ses skoolhoofde gewerk.

“Ek het lekker gewerk onder al die hoofde, want ek het hard gewerk en my werk geniet. So, daar was nooit klagtes nie. Dan is ’n mens mos gelukkig.

“In 2003 het ek aftree-ouderdom bereik by die departement van onderwys, maar die skoolhoof mnr. T.F. Strydom het gevra dat ek nog ’n paar jaar moet aanbly. Toe sê ek okei ek sal. Nou is dit ’n hele paar jaar later en regtig tyd dat ek moet aftree,” sê Gerber.

Elke oggend klok sy al half ses by die skool in. Dan is dit tyd vir oggendgodsdiens saam met die werkers en om die dagtake deeglik te beplan.

Natalie Lombard, een van die skool se sekretaresses sê, “Tannie Bets is so jonk van gees en altyd positief.” Ilana van der Westhuizen, die ander sekretaresse, sê, “kyk, sy roer ons. As ’n ding moet gebeur moet dit nou gebeur!”

“Ons lag baie want kinders wat hier was toe ek by Sonop begin het, se kinders bring nou al hulle kinders skool toe! En die meeste van die personeel wat hier werk is gebore in die dae toe ek al lankal hier by die skool begin werk het.”

Boonop is haar agterkleinkind ook by Sonop. Daar is min kinders wat kan roem dat hulle oumagrootjie by die skool werk waar hulle skoolgaan!

In die tyd dat Gerber by Sonop was het sy baie van haar familie aan die dood afgestaan, ook haar man sowel as een van haar seuns.

“Deur al daardie hartseer dae was die skool vir my ’n toevlug. By die huis het die hartseer te veel geword, maar hier kon ek vergeet, want die werk het my gedagtes besig gehou,” sê Gerber.

Sy kyk na van die ou wit-en-swart fotos uit die 1960s en lag, “… jong, tóé was my hare hoog. Kyk op elke foto is my hare anders. Ek hou van modes en mooi aantrek. In daardie jare het ons baie kort mini-rokke ge-dra.”

Gerber glo aan gesond leef. Sy drink alles bitter, gebruik geen suiker of melk nie en oefen elke dag. Daarby gaan slaap sy saam met die hoenders en staan dou voor dag op.

“Elke liewe oggend en aand doen ek my strekoefeninge. Ek is baie lief vir sport en het tennis en muurbal gespeel tot op 65 jaar. Vroeër jare het ek by Hennie Haggard geoefen. Almal het hom geken. Hy het ’n mens goed laat oefen.”

Gerber sê wat die meeste verander het oor die 54 jaar by die skool, is die onderwysstelsel.

“Onderwysers het amper nie meer tyd om klas te gee nie, daar is soveel administratiewe take wat hulle moet doen. Dit is ’n ding wat my nogal bekommer.”

Tyd om te woel by die huis

“Ek sien uit na my tyd by die huis. Ek is ’n Jack of all trades. Ek verf, skrop en skuur en skoffel en plant. Daar is baie dinge wat ek wil doen. Ek is ’n regte besige bytjie.

“Oe, ek gaan baie huil as ek hier uitstap. Hierdie is ’n groot deel van my lewe … 54 jaar is ’n leeftyd by Sonop,” sê Gerber.

Donderdag, 31 Mei is Gerber se laaste dag wat sy by haar kantoor instap waar die bord-jie “Bets Gerber – Tesourier” teen die muur hang en die woorde “Bid Gedurig” teen die deur geplak is.

You need to be Logged In to leave a comment.