TYD vir swem in munisipale swembaddens is verby want dié fasiliteite se hekke het vanjaar al op 28 Februarie gesluit en sal eers weer in Desember oopmaak.
“Die verlammende droogte waaronder Nelson Mandela metropool gebuk gaan het dit genoodsaak om munisipale swembaddens vroeër te sluit,” sê Kupido Baron, munisipale woordvoerder van die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit.
Volgens Baron word slegs die Newtonpark-swembad nie deur dié krisis geraak nie.
“Dié swembad het ’n wateraanvullingstelsel in plek en is onderdak wat verdamping beperk. Daar is ook watertenks by die swembad aangebring waarin reënwater geoes word om die swembadvlakke konstant te hou,” sê Baron.
Dit is veral swemmers van Despatch wat ongelukkig is oor die vroeë sluiting aangesien daar heelwat driekamp-atlete is wat in die dorp se swembad geoefen het.
“Ons het aanbeveel dat dié swemmers gebruik maak van die Newtonpark-swembad, maar hulle het dit van die hand gewys.
“As alternatief kyk die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit na die moontlikheid van boorgate as bron van water vir munisipale swembaddens,” sê Baron.