DIE Gambleville-poskantoor laat sy gemeenskap in die steek en versaak om die bejaardes, behoeftiges en gestremdes van diens te wees.
So sê Uitenhage sakeman en gemeenskaps-leier Abdulla Tiry, nadat hy kennis ontvang het dat die Gambleville-poskantoor sy deure gaan sluit en nie langer die perseel, waarvan Tiry die eienaar is, gaan huur nie.
Volgens Tiry is die rede vir die sluit van die poskantoor dat te min mense die poskantoor ondersteun en daarom is dit nie meer finansieël moontlik om die deure oop te hou nie.
“Dié poskantoor het maande laas huur betaal, dit pla my nie. Wat my pla is dat hulle swak diens lewer en nou die gemeenskap blameer vir hulle finansiële verknorsing,” sê Tiry.
“Die poskantoor het aangedui dat ’n gemiddeld van 15 mense per dag die poskantoor besoek, wat glo te min is. Ek het vir ’n halfuur daar gestaan en 12 mense getel wat by die poskantoor ingegaan het. Nie een van hulle kon gehelp word nie, omdat geen van die dienste wat hulle verlang het beskikbaar was nie.
“Maandag sowel as Dinsdag (1 & 2 April) was daar geen geld vir toelae-uitbetalings nie. As hulle ’n professionele diens lewer, sal dit vir hulle moontlik wees om hulle deure oop te hou en selfs uit te brei,” sê Tiry.
’n Lys van klagtes oor dienslewering van die Gambleville-poskantoor is deur die gemeenskaps-ontwikkelingsforum van wyke 45, 48, 49, 50, 51 en 53 opgestel. Dit sluit onder andere in dat daar geen elektroniese transaksies gedoen kan word nie, slegs een persoon beman die kantoor en soms is die kantoor vir twee weke gesluit as die persoon siek is, en algemene swak dienslewering.
Dié forum, wat deur ’n groep besorgde senior burgers van die omliggende gemeenskap gedryf word, het binne drie dae 1 712 handtekeninge gekry in ’n petisie om te verhoed dat die Gambleville poskantoor sy deure sluit.
Florence de Vos, een van die forumlede sê dit is nie vir die bejaardes, behoeftiges en gestremdes moontlik om na die Uitenhage-poskantoor te gaan nie.
“Van dié mense het nie geld nie en kom juis einde van die maand poskantoor toe vir hulle toelae-geldjie. Nou wil hulle die poskantoor sluit en dié mense moet dorp toe te gaan en betaal vir vervoer met geld wat hulle nie het nie,” sê De Vos.
Kiewiet Stuurman, nog ’n lid van die forum sê, “Vanoggend was hier nie ink nie, ander dae is daar nie papier nie. Dit is mos nie die gemeenskap se skuld nie. Nou moet ons dorp toe gaan. Ons wil hier gehelp word, dit is vir ons veiliger en kos ons niks om hierheen te loop nie. Waarom moet ons betaal om in die dorp in lang rye te gaan staan vir ’n diens wat veronderstel is om hier gelewer te word?”
Tommie van Rooyen, areabestuurder vir die Poskantoor het na die pleidooie van die forum geluister en gesê dit is wel in die pyp-lyn dat die Gambleville-poskantoor gesluit gaan word.
“Daar is veelvoudige redes daarvoor onder andere finansiële nood en dat statistiek toon dié poskantoor word onderbenut. Dus regverdig die hoeveelheid transaksies nie die huur van die gebou nie,” sê Van Rooyen.
Van die 300 posbusse by Gambleville-poskantoor word tans slegs 17 verhuur.