KEN jy die Klipspatch-storie? Die storie oor Doring van Despatch, Piet Geelslang se spook wat die trein wou ontspoor en die dag toe ’n olifant weggeraak het op Despatch?
Dit is ’n paar van die stories wat te lees is in ’n boek Despatch Stories oor die Dorp en sy Mense, wat Hannes Slabbert, ’n bekende inwoner van die dorp, saamgestel en onlangs uitgegee het.
Despatch het in 1945 dorpstatus gekry, wat dit een van Suid-Afrika se jongste dorpe maak. Despatchers het in dié relatiewe kort bestaan van die dorp gesorg vir byna meer stories as dorpe wat reeds vir eeue bestaan.
In Slabbert se voorwoord skryf hy, “Dit is nie ’n wetenskaplike studiestuk nie, maar eerder net ’n beskrywing vir die bewaring van ons dorp se geskiedenis.”
Hy het in 2013 begin met sy insameling van stories oor die dorp.
“Weet jy van die olifant wat vir twee of drie dae weggekruip het in die digte bosse daar waar die NGK Eendrag-kerk (Glaskerk) vandag is?” vra Slabbert.
“Die Colonial of Continental sirkus het in 1966 die dorp besoek. Daar was ‘n onderonsie met die sirkusmense en toe het laaities die olifantbegeleier met ketties geskiet. Hy het die olifant gelos en skuiling gaan soek. Nou ja, die olifant het ook koers gekies die digte bosse in.”
In die boek is daar ook ’n stuk oor die eerste polisiebeampte van Despatch, konstabel J.A. Fourie. Hy is vanaf Uitenhage oorgeplaas en die vervoerkoste van sy trek in 1951 was die aardige bedrag van twee pond (R4).
Die dorp se polisiestasie was waar die NGK Retief-kerk vandag is. Die twee palmbome wat daar staan, is destyds voor die polisiestasie geplant.
Dan is daar ’n stuk oor Despatch se oudste inwoner, tannie Lili Marx (104) en die egpaar wat die langste getroud is op Despatch, Johann en Maureen Stassen.
Verskeie ander interessante inligting oor skole, kerke, al die sportsoorte en presteerders sowel as ’n paar grappige vertellinge verskyn ook in die boek.
Die boek is versorg en gedruk deur nog ’n Despatcher, Annelize Mostert.
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring en voorreg om saam met oom Hannes aan die boek te werk. ‘n Mens sien die dorp skoon uit ‘n ander oog nadat jy dit gelees het,” sê Mostert.
Springbokke en spook
“Dit is baie interessant hoeveel verskillende sportsoorte hier op die dorp beoefen. In byna al die sportsoorte was daar Springbokke of iemand wat of provinsiale of nasionale kleure daarvoor verwerf het.
“Almal is nou nie so bekend soos die Doring van Despatch, Danie Gerber nie,” sê Mostert.
Despatch het ook ’n spook gehad wat ’n trein moes ontspoor sodat Piet Geelslang nie hoef te gaan werk nie. Dié storie word vir die waarheid vertel en was een van wyle Tom Slabbert se gewilde stories.
Verander Despatch se naam
In die boek word ook vertel van die voorstel vroeër jare om Despatch se naam te verander na die oud-premier John Vorster.
’n Afvaardiging het Vorster besoek oor dié voorstel en hy het glo gesê dit is reg, maar op voorwaarde dat daar geen teenkanting mag wees nie.
Die dag toe daar op die rugbyveld vergader is oor die groot naamsverandering was “Tannie Swart” hewig teen dit gekant Net daar het Despatch toe Despatch gebly.
Volgens Slabbert is dit “nie net Despatchers wat die boekie lees nie. Daar is al ‘n hele paar van die boekies oorsee gestuur na oud-Despatchers in Australië, Nieu-Seeland, Amerika en selfs na Italië.”
- Die boek oor Despatch is beskikbaar by Hannes Slabbert. Vir meer inligting of om ’n kopie te bekom bel hom by 041 933 4404 of 081 592 2528.