EERS het ’n paar vasbytfietsryers ’n taai 150km roete aangepak en toe is ’n dans gehou, alles om te help fondse insamel vir Natasha Thysse (36) van Uitenhage wat kankerbe-handeling ontvang.
Dié ma van drie kinders is Augustus verlede jaar gediagnoseer met melanoom-kanker, die gevaarlikste velkanker. Die kanker het na haar organe versprei.
“Sy was Maandag weer vir behandeling. Sy kry een keer per maand ‘n drip en sy moet daagliks 8 chemo-pille (Zelboraf) neem wat spesifiek vir die kanker is wat Natasha het. Dit is dié pille wat so duur is,” sê Esmerelda Erasmus, Natasha se suster wat haar ondersteun en die fondsinsamelings reël.
“Haar mediese fonds bied slegs R400 000 onkologie voordeel vir die jaar en as dit uitgeput is, wat nou die geval is, moet ons 20% van die medikasie elke maand betaal sowel as al die doktersbesoeke.”
Fuel on Wheels, ’n plaaslike nie-winsgewende organisasie wat die belange van mense in nood op die hart dra, het van Natasha se situasie gehoor en in samewerking met motorfietsklubs, fietsryers en ondersteuners die 150km roete na Jeffreysbaai en terug aangepak. Kort na dié uitdaging is ’n dans by Danskraal gehou en die gemeenskap se ondersteuning het dit vir Natasha moontlik gemaak om vir nog behandelings te gaan.
Eerskomende naweek word ’n steakbraai gehou, wéér om fondse in te samel om haar te help. Dié steakbraai word Saterdagaand 18:00 gehou by Oppikoppi, wat ’n paar kilometer buite Uitenhage op die Hillwacht-pad geleë is. Kaartjies is R100 en sluit in ’n heerlike steak, twee slaaie en ’n worsrolletjie.
Natasha is ’n ma van drie kinders, Anushke (16), Jana (9) en Johandré wat slegs 1 jaar en 9 maande oud is. Sy was voorheen werksaam by Motorvia.
- Vir meer inligting of om kaartjies te bespreek en so vir Natasha te help bel Es by 064 656 3111.