Skrywer se verhale verskyn in keurbundel

DRIE kortverhale van ’n talentvolle skrywer van Uitenhage, Nico Schamrel, is as wen-verhale gekies en verskyn saam met ander skrywers se werke in ’n keurbundel getiteld Vlerke.


DRIE kortverhale van ’n talentvolle skrywer van Uitenhage, Nico Schamrel, is as wen-verhale gekies en verskyn saam met ander skrywers se werke in ’n keurbundel getiteld Vlerke.

Op die buiteblad van Vlerke, wat deur PENdit.za gepubliseer is, verskyn ’n kuns-werk van Schamrel.

Sy kortverhaal “Kindjie-geskenk” is ’n diep verhaal oor verkragting, waaruit aanvaarding, goedheid en liefde groei.

“Englè se Huilboom”, sy tweede verhaal, handel oor ’n vrou se besoek van ’n vreemdeling wat haar lewe in ’n ommesientjie verander. Hierdie verhaal ontvou lagie vir lagie en is met piëteit geskryf en laat die leser met ‘n knop in die keel en ‘n tevrede glimlag.

Die derde verhaal, “Man met ’n strop om sy nek”, vertel die storie van ’n doodveroordeelde in ’n tronksel wat glo hy is onskuldig tot ’n besoeker hom op ‘n verrassende wyse verkeerd bewys.

“My proefleser, Ronel Dunn van PENdit.za, het vir my gesê om in myself te glo en ek het haar raad gevolg.

“Ek skryf uit my hart, maar doen baie navorsing vir elke kortverhaal,” sê Schamrel, wat ’n bestuurder is by Valley Bushveld Country Lodge buite Uitenhage.

Sy raad vir aspirant skrywers is: “Begin net skryf. Skryf oor dit wat jy voel en waarvan jy kennis dra.

“Gebruik jou agtergrond, lewensondervindings en dit wat jou interesseer. Sluit aan by ’n skrywersblad soos PENdit.za en publiseer jou stories.”

Tans werk hy aan sy eie kortverhaal- omnibus wat later vanjaar beskikbaar sal wees.

  • Vlerke kos R120 en kan per e-pos bestel word van PENdit.za by bets.adminco@gmail.com. – VERSLAGGEWER

You need to be Logged In to leave a comment.