SKOUSPEL is nie net vir die nasionaal be-kende sangers nie. Op Despatch gaan ook ’n skouspel gehou word, maar met super plaaslike talent!
Dié skouspel met 13 sangers sowel as ’n dansproduksie deur die Natasha Tais Dansskool en kooroptrede van Laerskool Frans Conradie is deel van die Opskopfees wat op 27 Oktober by die Despatch Rugbyklub aangebied word. Die Opskop Skouspel se sangers is Karina, Gerrit de Jager, Jacques Saaiman, Tiffany Frost, Semandie, André, Chantelle Bosch, Wiehann, Ru-Ané, Chezane, Michael Fouché, Wanda van Rooyen en Heino.
Deur die loop van die fees sal verskeie plaaslike sangers optree soos Savanna, Elrize, Janecke, Elsabe, Jimbo Gordon, Despatchers Orkes, Chad, Johan Anker en Breë-straat Orkes. Daar is ook ’n item waar André van Huyssteen op kitaar vir Charmaine Kirton begelei.
ACVV Huis Najaar op dié dorp is die be-gunstigde van die fees. Daar sal ook stalletjies, boeresport, springkastele en speelplek vir die kinders wees sowel as uitstallings van motors en motorfietse.
By dié fees gaan dit nie net by sing en dans bly nie, daar gaan ook gestoei word op die rugbyveld. Bekende radio-omroeper en plaaslike sanger Gertjie de Jager gaan sy stoei-debuut hier vier. Dié Rise of Champions stoeiery word op 26 Oktober om 19:00 gehou.
- Kaartjies vir die Opskopfees en Rise of Champions stoei is beskikbaar by Westway Tickets, Deli op Despatch of Karina 071 323 3503 of Belinda 061 001 7128.