’n REPLIKA van die 29,4 meter hoë skoorteen, wat deel was van die ou baksteengroef op die oewer van die Swartkopsrivier langs Despatch, pronk nou by die stadsaal en sal gewis – veral saans – ekstra glans aan die dorp verleen.
Dié 6 meter hoë replika is met feesliggies versier op inisiatief van die Nelson Mandelabaai munisipa-liteit se elektrisiteitsafdeling op Despatch.
“Daar is 2 000 liggies in die 150 meter ligtou wat met 700 kabeltoutjies vasgemaak is. Dit was eintlik ’n kollega, Yolande van Wyk se idee wat nou hier staan,” sê Louis Nortier van die elektrisiteitsafde-ling.
Frans Swanepoel, inwoner van Despatch wat betrokke is by erfenissake van die dorp sê, “dit maak ’n positiewe verskil, ons almal wil in ’n dorp bly wat mooi lyk en versorg word. Hierdie skoorsteen met sy liggies is ’n baken waarop ons trots kan wees.
“Dit is by die stadsaal, die biblio-teek én museum. Die tuintjie hier bestaan uit inheemse geharde plante uit die omgewing en is deur inwoners van die dorp geskenk en geplant,” sê Swanepoel.
Despatch se bestaan is te danke aan die steengroef wat in 1880 deur die Jood Southernburg begin is. Dit het gelei tot ’n nedersetting, later ’n treinstasie en uiteindelik het Despatch dorpstatus in 1942 gekry.
Die skoorsteen, wat ook die dorp se embleem is, is in 1882 gebou met die doel om lug deur ’n ondergrondse bakoond te laat trek.
Dié bakstene met die naam Despatch Patent daarop, was van hoë kwaliteit en die meeste ou geboue in Port Elizabeth en Uitenhage is met dié stene gebou.
Die Despatch Patent steengroef was in daardie tyd ook die mees moderne steengroef in die gebied.