Laerskool Winterberg se skoolhoof, Randall Mapoe, in ’n mini-rok op pad na die skool. Foto:VERSKAF


DIT vat moed vir ’n skoolhoof om sy das en hemp te verruil vir ’n mini-rokkie, veral toe die saal propvol leerders ontplof het van die lag met sy verskyning.

Vir Randall Mapoe, skoolhoof van Laerskool Winterberg, was dit ’n gegewe om sy ooreenkoms na te kom.

“Ek het die leerders en ouers uitgedaag om ’n bepaalde bedrag geld in te samel tydens laas naweek se Familie-speletjiesdag. Die geld is nodig om opvoedkundige toerusting te koop,” sê Randall. “Leerders was effens kort met R1 500, maar hulle en die ouers het baie hard gewerk om die rekordbedrag geld in te samel. Daarom het ek besluit ek sal die rokkie aantrek!”

Hy sê die hoëhakskoene het “vreeslike konsentrasie geverg.” Sy waardering gaan weer eens uit aan ouers wie onder uiters moeilike ekonomiese omstandighede steeds hard probeer om net die beste vir hul kinders te gee.

Die skool se volgende fondsinsameling is ’n Erfenisbraai wat volgende kwartaal gehou word.

You need to be Logged In to leave a comment.