IN die 128 jaar van ’n laerskool op Uitenhage se bestaan, was dit nog nooit so lamgelê deur inbrake soos tans nie.
“Daar is die naweek wéér ingebreek. Sommer by twee klaskamers op die terrein. Dit lyk asof die inbrekers die keer ook toegang deur die dak verkry het,” sê Randall Mapoe, skoolhoof van Laerskool Winterberg.
Dié skool is ’n nie-fondse skool en word deur die departement van onderwys gesubsidieer.
Volgens Mapoe het Winterberg ’n redelike agterstand en dien die skool ’n gemeenskap wat finansieël baie swaar trek.
“Ons voedingsprogram was lamgelê omdat diewe twee keer hierdie jaar die gaskanne by die kombuis gesteel het. Die gaskanne was agter slot en grendel. Die eerste keer is die tralies uit die muur geruk om die kanne te steel en ’n volgende keer is die veiligheidskas oopgesny en die nuwe gaskanne is gesteel,” het Mapoe gesê.
Klaskamer-inbrake is die grootste probleem by Winterberg.
“Daar was reeds vyf klas-inbrake (verlede naweek se inbrake uitgesluit) die jaar. Van dié inbrake was sommer op agtereenvolgende weke.”
Tydens een van die inbrake is al Winterberg se geborgde netbalhemde gesteel. In een van die ander inbrake is al toiletware, skryfbehoeftes en sanitêre doekies gesteel wat in groot maat by die skool gehou word vir behoeftige dogters. Die skool se gereedskap is ook gesteel.
Die afgelope vakansie is Winterberg se telefoonkabels vir die tweede keer gesteel.
“Ons was vir ’n week sonder enige verbinding en internetkonneksie. Telkom het te kene gegee dat as dit die norm raak sal die skool moet oorskakel na ’n ander kommunikasie-stelsel.
“Al die skool se koperwaterpype is reeds gesteel. Nou word die plastiek-waterpype oor na-weke stukkend ge-steek of afgesny,” sê Mapoe.
Mapoe vertel dat hy op ’n Vrydagmiddag omstreeks 14:30, nadat die skoolhekke toe was, in sy kantoor doenig was toe hy gehoor het hoe “kwaaijongens op die dakke hardloop”. Daar was ook twee insidente tydens skoolure, waar hy mans onder die invloed van alkohol, vanaf die sportterein moes verwyder.
“Ons het al outjies aangekeer en die polisie het gekom en hulle ouers is ook laat kom. Hulle was minderjarig en veronderstel om op hoërskool te wees en is op waarskuwing vrygelaat.”
Dit is ironies dat die inbrekers vrye toegang tot die skool verkry alhoewel daar ’n veiligheidsheining is.
“Duidelik is dié heining onvoldoende en bied nie beskerming aan die skool en ons leerders nie. As daar soveel ander skole op die dorp is wat in ’n beter posisie is as ons en hulle het die nuwe heinings, wat is die oponthoud met Winterberg?” vra Mapoe.
Winterberg is een van die min skole op Uitenhage wat nog nie toegerus is met die nuwe groen verbeterde veiligheidsheinings nie.
“Winterberg se begroting vir herstelwerk kan eenvouding nie die heining beveilig nie. Met die bronne tot ons beskikking, probeer ons om die beste vir ons leerders te gee.
“Ons is huiwerig om enige gevorderde elektroniese of rekenaar-toestelle in te bring wat help met onderrig, want ons weet nie wanneer slaan die diewe weer toe nie.
“Ons is dankbaar teenoor die verskeie buite-instansies wat hand uitsteek en ons help met kospakkies, klere en boumateriaal.”
Alhoewel die ouers nie skoolfooie betaal nie, word hulle aangemoedig om ’n bydrae te lewer deur fondsinsamelings te ondersteun.
Die volgende fondsinsameling is die Winterberg Bingo wat op 24 November gehou word. Die doel van dié fondsinsameling is om ’n interkomstelsel vir die skool te laat installeer.
Kaptein Gerda Swart, woordvoerder van die Uitenhage polise, het bevestig dat daar sake verskeie sake van inbrake by die skool gemaak is.
“Die afgelope naweek is daar weer ingebreek en elektroniese ware is geneem. Ons benodig die publiek se hulp oor inligting van afsetgebiede vir die gesteelde items,” het kaptein Swart gesê.