WISKUNDE gaan oor baie meer as net somme en formules. Dit leer ’n mens om oplossings te vind, om te redeneer, kreatief te dink, idees te verbind, data te analiseer, om logies te dink en om dinge in verhouding te sien.
In Suid-Afrika toon skokresultate dat leerders onderpresteer in wiskunde.
Dié resultate is nie net onder die swakste ter wêreld nie, maar ook onder die swakste in Afrika.
Om dié rede het Green Shoots ’n aanlyn wiskunde-kurrikulum ontwikkel om aanvullend vaardighede aan leerders tussen graad 3 en 9 te leer.
Green Shoots vervang nie wiskunde nie. Dit bied ’n addisionele twee ure per week waartydens leerders die program moet volg.
Dié program word reeds met sukses in Wes-Kaapse skole aangebied. Seagull Primêre Skool op Uitenhage se graad 6 klasse het in April vanjaar met die program begin.
“Dit is nog te gou om te sien wat die impak van die program is, maar die opgewonden-heid van die leerders is bemoedigend,” sê Ettiene Terblanche, skoolhoof van Seagull Primêr.
“Wat die program wel reeds duidelik uitgewys het is dat leerders se vermenigvuldig-vaardighede nie op standaard is nie.”
Die Green Shoots program word aangebied op rekenaar-tablette en bied aan die onderwyser toegang tot elke leerder se vorderings-data.
Assessering wys ook elke leerder se tyds-duur per taak en sodoende kan die onderwyser fokus op probleemareas.
“Die program is van hoë standaard en gaan beslis baie vir ons leerders beteken. Hulle leer om wiskunde uit ‘n ander perspektief toe te pas, om te konsentreer en stap vir stap ’n taak aan te pak,” sê Abigaile Leander, wiskunde-onderwyser in beheer van Green Shoots by die skool.
“Ons onderwysers is soms te genadig met leerders, maar nie die rekenaar nie. By hom is dit reg of verkeerd,” sê Leander.
Al probleem, volgens Terblanche is dat die skool slegs 20 rekenaar-tablette het.
“Daar is ’n gemiddeld van 40 leerders per klas.
“So, die tablette moet gedeel word en dit mors tyd en die leerders raak agter met die kurrikulum. Die ideaal is dat elke kind in die klas ’n tablet sal hê.
“Wiskunde is ’n universele taal en tegnologie is die toekoms. Ek wil nie dat ons skool se kinders agterbly nie,” sê Terblanche.
Die koste van ’n tablet is ongeveer R1 500.
Die skool hou fondsinsamelings om die projek te ondersteun en die volgende insameling is in September wanneer ‘n speletjiesdag by die skool gehou word.
- Vir ondersteuning van die skool se Green Shoots program bel Seagull Primêr by 041 988 4517.