DIE skerp kante van ’n liefdesteleurstelling wat ’n hart kan laat pyn, het ’n surfer van Despatch geïnspireer om heling in die ses snare van ’n kitaar te soek.
Nou, drie jaar na dié seer van ’n liefde wat nie meer is nie, bestaan Riaan Vogel se lewe uit sing, kitaarspeel én branderplankry.
“Dit gaan vir my oor die goodness wat geld nie kan koop nie. Soos om die seer van die lewe te transformeer in goeie musiek. Om uit die lewe te ontgin wat verniet is en my en ander se lewens daarmee te verryk,” sê Riaan.
Versameling kitare
Riaan wys na sy tien kitare, elk van sentimentele waarde vir hom, veral sy 20 jaar oue rooi Fender Bullet Strat.
“Kyk hierdie Epiphone SG Special elektriese kitaar. Ek is mal oor die kitaar want Pat Smear, wat ‘n lid was van Nirvana en toe Foo Fighters, het net so ’n kitaar.
“Maar kyk hierdie een, dit is my kosbaarste kitaar. ’n 1975 Ibanez Concord Gibson Lawsuit akoestiese kitaar. Jy gaan sukkel om een van hulle in so ’n goeie toestand te kry. En kan jy glo, hiérdie een is as ’n geskenk wat ek van my eerste kitaarstudent, Tertia Grober, gekry het.”
Riaan sê sy liefde vir musiek kom van sy ouers, Michael en Tilla Vogel af. Beide is oorlede, maar hulle liefde vir musiek leef in hom voort.
“Ek was glo twee jaar oud, toe het ek al uit volle bors gesing en op my broer se tennisraket kitaar gespeel. My ouers het my die gevoel van rock ‘n roll geleer. Veral Queen se musiek en spesifiek Freddie Mercury. Hy was absoluut awesome en ’n geniale musikant.”
Riaan het sy eerste kitaar op agt-jarige ouderdom gekry en op 12 was hy deel van ’n musiekgroep.
“Ons was almal van Despatch en mense noem die dorp mos Klipspatch, maar ons wou cool klink toe noem ons die band Stone Throw.
“Van toe af was dit nag, want toe ontdek ek Kurt Cobain en Smells Like Teen Spirit het ‘n energie in my uitgebring wat my laat droom het om net so goed kitaar te speel.”
Daarna het Bob Marley in sy lewe gekom. “Hy is in 1981 dood, maar leef steeds deur sy musiek want as ’n Bob Marley song speel, dan vang mense dadelik daardie reggae ritme.”
Dit is Riaan se lewensmaat Lize, wat hom weer hoop gegee het in ’n tyd wat hy gedink het, sy lewe is verby. “ Sy het vir my gesê gaan kry vir jou ’n kitaar en begin weer musiek maak, dit is jou passie.”
Riaan het dit gedoen en toe die sypaadjies en winkelsentrums sy verhoog gemaak met die verbyganger en vreemdeling as sy gehoor. Hy het ook by spesiale geleenthede opgetree. Nou is Riaan ’n bekende gesig as straatmusi-kant op die dorp.
Sy voorkeur genre is rock, maar hy kan met sy verskeidenheid kitare in enige musiekstyl optree.
Riaan tree ook per geleentheid saam met die Zambiese raggamuffin-musikant en kunstenaar Louie X op onder die naam The Goodness.
Die twee gaan juis môre, op Valentynsdag, vir Despatchers ‘n liefdevolle dag “toe-sing” met ’n The Goodness optrede in HF Verwoerdrylaan.
Branderplankry – sy ander liefde
Tussen die kitare, in die hoek van sy mu- siekkamer, staan Riaan se branderplank. Dit was ook sy pa, Michael, wat Riaan op 12-jarige ouderdom aan dié sport blootgestel het.
“In daardie jare het ek R4.50 betaal om met die trein Baai toe te ry om te gaan surf. Wanneer ek lam gesurf was, was dit weer R4.50 terug en dan raak ek aan die slaap, mis die Despatch-stasie en word op Uitenhage wakker.
“Dis my vryheid daai … as ek in die see is, was ek my siel skoon en dink aan niks … dan is dit net ek en my plank en die excitement van elke brander. Kyk hoe het die son my lagplooie getan, want as ek in die water is smile ek heeltyd.”
- Riaan tree graag by privaat sowel as korporatiewe geleenthede op en bied ook kitaarlesse aan. Vir meer inligting bel hom by 072 855 8517 of epos riaanvogelmusic@gmail.com

