Silwer sewes-span lewer twee OP-spelers

KONSEKWENTE goeie spel het aan die Hoërskool Brandwag se sewesspan twee silwermedaljes en twee plekke in die OP o.17-span besorg.


KONSEKWENTE goeie spel het aan die Hoërskool Brandwag se sewesspan twee silwermedaljes en twee plekke in die OP o.17-span besorg.

Brandwag was die naaswenners van die OP-rugbyunie se hoërskole-toernooi wat onlangs by die Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth aangebied is. Daniel Pienaar het in die doodsnikke die finaal 21-14 gewen.

Brandwag het tydens dié toernooi vernietigende spel opgelewer met oorwinnings oor Nico Malan (31-0), Bertram (38-0), Cillie (38-7) en Solomon Mahlangu (54-0). In die semifinaal het Brandwag 31-12 teen Framesby gewen.

Twee weke tevore het Brandwag se o.17’s ook goeie spel by die Langerry-Sewestoernooi by Framesby opgedis. In die laaste rondes van dié toernooi het Brandwag vir Framesby in die kwarteindronde 21-17 gewen en Daniel Pienaar 17-12 in die semifinaal geklop. Brandwag het eindelik met silwermedaljes weggestap nadat Grey die finaal beklink het.

Octavian Muller en Terrence Goliath se goeie spel is beloon met hulle insluiting by die OP o.17-sewesspan. Tydens die rugbyseisoen het Octavian diens gedoen as vleuel terwyl Terrence op senter uitgedraf het. Octavian het vanjaar vir Brandwag se eerste rugbyspan ’n merkwaardige gemiddeld van ongeveer twee drieë per wedstryd gehand-haaf.

You need to be Logged In to leave a comment.