Seun (9) se liefde vir karate, spelling en karre

DIE kombinasie van karate, karre én spelling as groot liefdes vir ’n 9-jarige seun is uitsonderlik. Maar dié raarheid is waar van Ethan Bothma (9) ’n graad 4 leerling van Laerskool Handhaaf op Uitenhage.


DIE kombinasie van karate, karre én spelling as groot liefdes vir ’n 9-jarige seun is uitsonderlik. Maar dié raarheid is waar van Ethan Bothma (9) ’n graad 4 leerling van Laerskool Handhaaf op Uitenhage.

Hy is ’n wêreldkampioen is sy karate-kategorie én een van Suid-Afrika se topspellers in sy ouderdomsgroep.

Ethan vertrek die 24ste September na St. Petersburg, Rusland, waar hy aan die 9de JSKA Karate Wêreldkampioenskap gaan deelneem én sy titel gaan verdedig.

Ethan is ’n lid van die L&J Karateklub op Uitenhage en die enigste in sy ouderdomsgroep van die JSKA Oos-Kaap groep wat na die wêreldkampioenskap gaan.

By die vorige JSKA wêreldkampioenskap in Namibië, was Ethan net 7-jaar oud toe hy as wêreldkampioen gekroon is nadat hy sy divisie vir die oranje tot groen-gordels gewen het.

Ethan het drie medaljes by dié wêreldkampioenskap gewen waar karateka van 15 lande deelgeneem het. Tydens die openingseremonie van dié kampioenskap het die eer Ethan te beurt geval om as ’n mede-vlagdraer op te tree en hy het die span van Engeland ingelei.

Die JSKA Wêreldkampioenskap word elke tweede jaar aangebied.

Ethan sê hy het op 5-jarige ouderdom met karate begin. By die deelname aan sy heel eerste toernooi het hy ’n goue sowel as ’n silwer medalje gewen!

“My pa is my hero. Toe ek klein was het ek sy OP-karateklere in sy kas gesien. En toe het ek gesê ek wil ook karate doen,” het Ethan gesê.

Hy moet nog twee rooi-gordel graderings doen en dan kan hy ’n bruin-gordel om sy spierwit-karatepak vasmaak.

“Ethan slaan hard en seer. Ek kan nie glo dat hy op sy ouderdom reeds so baie kata-bewegings kan doen nie. Daar is van die katas wat tot 67-bewegings bevat. Dit is moeilike bewegings om te onthou, maar hy doen dit,” het Stephen gesê.

Buiten karate is Ethan ook ’n goeie gholfer, hy speel graag tennis, skaak en hy is ’n kampioen-speller.

In 2016 was Ethan die nasionale naaswenner in sy kategorie van die WOW-Spelfees. Hy het onlangs met sy spelkennis wéér skoonskip gemaak op provinsiale vlak en deurgedring na die 2018 nasionale rondte van die WOW-Spelfees wat in Oktober by die Universiteit Stellenbosch gehou word.

Alhoewel hy in graad 4 is, draf hy al die graad 7 spel-oefeninge kaf. Ethan se lys van speloefeninge bevat 2 400 woorde.

“Dit is my grootste droom om die WOW-Spelfees se nasionale rondte te wen. Dit gaan nie help om met ’n woordeboek onder my kopkussing te slaap en hoop dat ek gaan wen nie. Om so baie woorde te leer oefen ek elke dag baie hard,” het Ethan gesê.

Sy ma Mornette ondersteun hom baie met dié spel-oefeninge. “Hy wys ons soms in ’n geselskap op ons taalgebruik en dat ons woorde reg moet gebruik,” het sy gesê.

Ethan is duidelik ’n seun wat van veelsy- digheid en uitdagings hou. Hy sê al wat hy nie kan of wil doen nie is netbal speel.

“As ek in die nag droom, droom ek van die verskillende katas en woorde. Hmmm … ja, ook van karre,” het Ethan gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.