Seniors genooi vir saamkuier en uitstappies

GESELLIGE saamkuiers, etes, uitstappies en insiggewende gesprekke deur gassprekers is alles deel van Despatch se Klub 60, ’n sosiale groep vir mense tussen die ouderdomme van 55 en ouer.


GESELLIGE saamkuiers, etes, uitstappies en insiggewende gesprekke deur gassprekers is alles deel van Despatch se Klub 60, ’n sosiale groep vir mense tussen die ouderdomme van 55 en ouer.

“Daar is so baie mense wat by die huis sit en graag wil deel wees van ’n sosiale groep wat stimulerende aktiwiteite aanpak. Dit is presies waaroor Despatch Klub 60 gaan. Ons is nog vol lewe en geniet dit om lekker dinge te doen,” sê Claude Fourie (86) voorsitter van Despatch Klub 60 sowel as van die Despatch Dienssentrum.

Klub 60 bestaan al vir die afgelope 30 jaar. Fourie vertel dat dit oorspronklik ’n sosiale klub van die voormalige Suid-Afrikaanse Spoorweë was vir mense wat op die ouderdom van 60 jaar afgetree het. Deesdae is dit vir enigeen vanaf 55 jaar en ouer. Huidige lede is van Despatch, Uitenhage en Port Elizabeth.

“Ons kom elke tweede en vierde Dinsdag van ’n maand bymekaar vir ons vergaderings by die Despatch Rolbalklub en ons maandelikse uitstappies,” sê Fourie.

Rienie Hopkins, een van Klub 60 se lede sê: “Die saamkuier en kommunikasie is lekker. Baie mense is alleen of eensaam en sosialisering is dan moeilik. Die klub se georganiseerde program is die regte medisyne om mense uit sulke omstandighede te kry.”

Verlede week het Klub 60-lede eers ’n draai by Kraaines, die gewilde troeteldierwinkel op Despatch gaan maak en daarna vir ’n heerlike tweegang-maaltyd by Despatch Dienssentrum gaan aansit.

Klub 60 se volgende uitstappie is na Jeffreysbaai waar hulle gaan kuier oor ’n lekker bord vis en chips. In September gaan hulle vir die olifante in Addo Olifant Nasionale Park kuier.

  • Mense wat wil aansluit by Klub 60 of meer wil uitvind oor die groep kan Claude Fourie bel by 072 309 7645. Vir meer inligting oor Despatch Dienssentrum se etes en saalbesprekings bel Cerine by 041 933 2404.

You need to be Logged In to leave a comment.