EERS was daar die treffer Vat my huistoe en nou hou plaaslike sanger en musikant Gerhard Pace die dansbaan vol met Kom dans met my.
Dít is ook die titelsnit van sy nuutste album wat eerskomende Saterdagaand, 3 November by The Barn in Greenbushes tydens ’n spitbraai en dans bekendgestel word.
Gerhard se “huis” is in George se wêreld, waar hy grootgeword het in ’n familie wat lief is vir musiek, dans en sang.
“Saterdag word my nuwe CD gevier saam met my pa se 75ste verjaardag. Hy het in boeremusiekorkeste kitaar en mondfluitjie gespeel terwyl my ma en broers meer die ouens is wat die dansvloer heelaand polish,” sê Gerhard Pace.
Kom dans met my is ’n liedjie wat in Gerhard se kop begin gestalte kry het tydens ’n dans by Open Sky.
“Ek’t die mense dopgehou hoe hulle oor die dansbaan beweeg en die draaie wat hulle by die bar gooi. Dit gaan oor ’n lekker dans en gesellige saamkuier.”
Die Kom dans met my album bevat 4 oorspronklike liedjies wat Gerhard geskryf het naamlik Bonnie, Jy’s my anti-depressant, Stywe Lyne en die titelsnit. Daar is ook 8 weergawes van gewilde dansliedjies van onder andere Smokie en Bellamy Brothers.
Gerhard het saam met bekende skrywer en musikant Wouter van de Venter gewerk om sy nuwe album die lig te laat sien. Dit is opgeneem by Musical School of Talent van Stiaan Fourie.
Oujaardagaand is Gerhard weer by The Barn te sien, die keer in die voorprogram van Dirk van der Westhuizen se vertoning.
“As ek my cowboy hoed opsit en so bietjie grapperig raak sing ek graag van Zak van Nie-kerk se nommers. Ek oorweeg dit om dalk ’n album oor sy musiek te maak ter herinnering aan hom.”
Op ’n vraag saam met wie hy graag ’n duet sou wou doen antwoord Gerhard beslis, “Caroline Grace, Riana Nell of Juanita du Plessis.”
’n Groep plaaslike sangers gaan Saterdagaand in Gerhard se voorprogram optree. Hulle is Lizanne Olivier, Jaques Saaiman, Chezane Steynberg, JD Botha en Chantelle Bosch.
Kaartjies vir dié musiekpartytjie wat om 17:00 begin is R100 en sluit ’n spitbraai-ete in. Besprekings moet op die laaste môre, Vrydag, 2 November voor 09:00 gedoen word.
Gerhard Pace se CDs is beskikbaar by WestWay Cafe, Despatch Deli en by homself.
- Vir meer inligting of besprekings bel 073 436 7089.