Sakepersele beskadig weens waterlekke

GEBOUE in die hoogliggende industriële area van Despatch loop al vir jare deur onder klam toestande wat al erger raak.


GEBOUE in die hoogliggende industriële area van Despatch loop al vir jare deur onder klam toestande wat al erger raak.

Selfs die fondasies van residensiële eiendomme in die omliggende Bothasrus-woonbuurt wys duidelike tekens van konstante klamheid.

Gerrit Rautenbach van Symara breifabriek in dié industriële area, sê daar is waarskynlik baie huiseienaars in die woonbuurt wat sukkel met klammigheid, mure wat verbrokkel, kalk wat binne hulle huise uitslaan en selfs koesyne of garagedeure wat roes, maar nie besef wat die oorsaak daarvan is nie.

Daar is reservoirs in Reservoir Hills waaruit water vir die afgelope paar jaar lek.

Huise in Khayamnandi, aan die anderkant van die Reservoir Hills heuwel, loop ook erg deur onder syferwater as gevolg van massa-lekkasies.

“Kyk hoe groen en oorgroei is die gras. Dit is droogte en dit lyk so? Nee, hier is groot fout,” sê Rautenbach

“Ek dink as eienaars van huise en persele die munisipaliteit begin dagvaar vir skade as gevolg van dié waterskade sal die munisipaliteit bankrot verklaar word. Dié waterlekkasies is eenvoudig soos die puntjie van ’n reuse ysberg,” sê Rautenbach.

Residensiële waterverbruikers wat die 50 liter/dag watergebruik oorskry word gestraf, terwyl megaliters water daagliks deur die munisipaliteit vermors word weens verouderde infra-struktuur.

Die uitvoerende hoof van die Nelson Mandelabaai sakekamer, Nomkhita Mona, het gesê die sakekamer is die stem van besighede in die metro en is daar om die belange van die sakegemeenskap te verdedig.

“Betroubare en geskikte infrastruktuur sowel as dienslewering is noodsaaklik vir besighede.

“Die sakekamer skakel met die metrobestuur deur ’n gesamentlike taakspan en sal dié waterprobleem tydens ons volgende vergadering aanspreek,” het Mona gesê.

Geen kommentaar is teen die UD Express druktyd vanaf die Nelson Mandelabaai munisipaliteit en die Nelson Mandelabaai belastingbetalersvereniging oor die water-kwessie op Despatch ontvang nie.

Vervolg vanaf p. 1

You need to be Logged In to leave a comment.