VLIEëNDE karre en motorfietse het BLG Wings & Wheels-besoekers behoorlik na hulle asems laat snak en vir groot opwinding gesorg.
Die Römer Extreme 4×4 uitdaging om ’n 360 grade agteroor tuimel met ’n viertrek-monster te doen, was die hoogtepunt van die buitelugfees by die Uitenhage-vliegveld.
Karel Spangenberg van Uitenhage het eerste dié waaghalsige truuk met sy 700 perde-krag viertrek-monster, Total Chaos, probeer. Hy het dit reggekry! Nou is hy amptelik die eerste Suid-Afrikaner wat in dié truuk geslaag het.
“Vir maande het ek oor-en-oor die tuimel in my kop deurdink en geoefen. Dit is ’n te groot waagstuk wat jy nie met jou kar kan oefen nie,” sê Karel Spangenberg van die Eastern Cape 4×4 Challenge Club.
“Omdat ek dit visueel so ingeoefen het was ek nie bang nie. Maar toe ek die byna duisend mense om die baan sien , het koue rillings deur my lyf gegaan. Ek dink toe … ‘Karel wat de dinges doen jy!’”
Maar in sy voorbereiding het hy herhaal-delik die raad gekry dat daar nie ’n breukdeel van ’n sekonde se huiwering in enige van die bewegings mag wees nie.
“So, as jy wegtrek gee jy alles …voet plat in die hoek. Die gravitasiekrag is iets verskriklik want dit is volspoed teen die vraghouer op, dan skiet jy die lug in en met geweldige momentum tuimel die kar agteroor, neus eerste grond toe voordat dit weer plat land.
“Dit was sekondes. Heeltemal te vinnig om regtig te besef wat gebeur!”
Met die landing van Spangenberg se swaar 2 ton Total Chaos, het hy sy wind uitgeval en die kar het geringe skade by die voorwiele opgedoen, maar dié skade en sy wind was binne 10 minute weer reg.
Gautenger Jacques Swart en navigator Luwell Holtzhausen, Suid-Afrika se voorste 4×4 ekstreem-uitdaagdeelnemer, het in hul veel ligter kar, drie agteroor tuimels gedoen.
Alhoewel Spangenberg slegs een tuimel gedoen het, was dié poging by uitstek die wenpoging.
Dit was ook die aanskoulikste en kragtigste en daarom is hy nou Suid-Afrika se eerste viertrek 360 grade agteroor tuimel kampioen!
“Ek’t voor die tyd gesê ek gaan dit net een keer in my lewe doen. As ek nie slaag nie, het ek probeer. As ek slaag, dan het ek dit gedoen. Maar wragtig nie weer in my lewe nie, dit is regtig baie erg!” sê Spangenberg.
1
2
3
4