Raakvat oumagrootjie word 100

ANNA Reynierse is bekend daarvoor dat sy groot skrik en dan volg haar woorde “O, gattag!”.


ANNA Reynierse is bekend daarvoor dat sy groot skrik en dan volg haar woorde “O, gattag!”.

Sy eet nie alle stellings sommer vir soetkoek op nie en be-vraagteken dit gereeld met “Hoe weet jy dit?”

As inwoner van ACVV Aandmymering tehuis op Uitenhage, het dié formidabele vrou, moeder, ouma en oumagrootjie haar 100ste verjaardag op 13 April saam met familie en vriende gevier.

As jy Anna vra wat die resep is om só oud te word dan antwoord sy: “’n Mens moet niks oordoen nie. Niks met ’n ‘te’ aan is goed nie. Bly fiks en eet gesond. En bly weg van satans-plekke.”

In haar jonger jare was sy ’n ywerige tuin-ier, het haar vriendinne se hare “ge-perm”, die heerlikse melk- en appeltert gebak en sy is ’n kranige naaldwerkster.

Twee jaar gelede het sy na haar delname aan ’n handwerk/naaldwerk-kompetisie, ’n wisseltrofee ontvang vir haar behendigheid met die naald. Sy is ook ’n groot sportliefhebber en hou veral van rugby. Hiervoor het sy jare gelede ’n unieke sertifikaat van die Laerskool Handhaaf se destydse o.11A-rugbyspan ontvang, vir haar getroue en lojale ondersteuning.

Op 75-jarige ouderdom het sy vir swemlesse gegaan en op 79 het sy die hoë duin by Oesterbaai uitgeklim ter viering van die millenium. Sy het tot op 88 deelgeneem aan Lettie Hay se fiksheidsoefeninge vir senior burgers.

Anna is op 13 April 1919 op Assegaaibosch naby Kareedouw gebore en haar ouers was Henri Emile d’Assonville en Engela Jacoba du Preez. Haar oupa, die Franse ingenieur Henri Emile d’Assonville het die oorspronklike Assegaaibosch Hotel (nou Assegaaibosch Lodge) gebou.

Anna het in 1946 met Samuel Reynierse in die NGK Moedergemeente, Uitenhage ge-trou. ’n Seun Leon en dogter Myrna is uit die huwelik gebore. Leon is in 1985 oorlede.

Haar kinders en hul wederhelftes Marina en Frans, 4 kleinkinders Riaan, Annelien, Juan en Charl, asook 4 agterkleinkinders, Tarryn, Hanru, Luan en Franko, is vir haar baie kosbaar en sy is ongelooflik trots op hulle. -HEILIE COMBRINCK

You need to be Logged In to leave a comment.