VOLKSWAGEN Suid-Afrika gaan binnekort alle modelle van sy splinternuwe sesdegeslag-Polo, wat in sy fabriek in Uitenhage gebou word, herroep vir herstelwerk.
Dít nadat die moedermaatskappy in Duitsland ’n tegniese probleem met die veiligheidsgordels in die 2018-modelle bevestig het.
Die Volkswagen Polo is naas die Polo Vivo die topverkoper-passasiersmotor in Suid-Afrika en nagenoeg 8 300 van die nuwe Polo’s is verkoop sedert dit vroeër vanjaar bekend gestel is.
Luidens ’n verklaring wat Volkswagen in Wolfsburg die naweek uitgereik het, bestaan die moontlikheid dat die veiligheidsgordel van die linkeragtersitplek in buitenge- wone omstandighede (soos skielike baan- verwisselings met vyf passasiers aan boord) en met insittendes in die middel- én die linkeragtersitplek kan losgaan.
“Met veiligheid die hoofprioriteit vir Volkswagen is ’n tegniese oplossing gevind – ’n herontwerpte gordelslot vir die linkeragtersitplek – wat dié situasie sal verhoed,” lui die Wolfsburgverklaring.
Volgens Volks- wagen, die wêreld se topverkoper-vervaardiger met 10,47 miljoen voertuie wat in 2017 verkoop is, is die Polo-modelle veilig, maar die vervaardiger beveel aan dat eienaars van sesdegeslag-Polo’s nie die middelsitplek agter gebruik totdat dit met die herontwerpte sitplekgordelslot toegerus is nie.
Geen beserings
Luidens die verklaring onderhandel Volkswagen nou met die betrokke belanghebbendes vir finale goedkeuring van die nuwe slotmeganisme vir voertuie wat reeds in die mark is, asook vir toekomstige reeksproduksie.
’n Herroepingsveldtog om die slotmeganisme te vervang en wat net in Europa sowat 100 000 eienaars van nuwe Polo’s sal raak, sal in die volgende paar weke begin.
Matt Gennrich, Volkswagen Suid-Afrika se hoofbestuurder van groepskommunikasie,
sê sowat 8 300 plaaslike Polo-eienaars sal geraak word.
Geen besering of sterfte wat deur die probleem veroorsaak is, is al aangemeld nie.