Karla & Kobus, die pa-en-dogter sangpaar van Despatch tree dié feesseisoen by verskeie plekke in Gauteng en in die Oos-Kaap op.

Foto: Esmerelda Photography Credit: SYSTEM

Die kitare en tasse is gepak en die pa-en-dogter sangpaar van Despatch, Karla & Kobus, het die pad na die noorde gevat vir die afskop van hulle feesseisoenoptredes.

Karla & Kobus se Gauteng-toer het op 16 November begin met optredes langs hul roete. Hul eerste optrede wat op Somerset-Oos en vanaand is hulle op Middelburg te sien voordat hulle die Vaalrivier oorsteek om daar gehore te gaan vermaak.

“Ons sien verskriklik daarna uit en is veral opgewonde om weer bekendes te sien, maar veral om nuwe mense te ontmoet,” sê Karla Gouws.

“Dit is vir my ’n groot voorreg en lekker om saam met my pa op die verhoog te jam en ons gehore hou van die lekker band tussen ons twee.

“Hy is ‘n fantastiese kitaarspeler en wat hom nog meer spesiaal maak is dat buiten kitaar hy nog 15 ander instrumente ook bemeester het.”

Karla, wie se 21ste verjaardag verlede maand gevier is, studeer tans aanlyn onderwys by Unisa en sy en Kobus Gouws (58) het onlangs as eiendomsagente aangesluit by die ReMax Above and Beyond se Kariega-tak. Beide is ook OP-potspelkampioene en speel graag teen mekaar skaak en tafeltennis.

Wanneer Karla & Kobus terugkeer uit Gauteng is hulle tot die einde van die jaar volgeboek met optredes in en om Nelson Mandelabaai.

“Om in Jeffreysbaai in Desember op te tree is altyd baie lekker en ‘n hoogtepunt van ons plaaslike optredes,” sê Karla.

Karla & Kobus is die afgelope ses jaar in die professionele musiekbedryf en Karla het reeds verskeie sang-kompetisies gewen.

“Dit is beide van ons se grootste droom om eendag by die Afrikaans is Groot of Krone-konsert op te tree voor duisende mense en om ook saam met die ander wonderlike Afrikaanse kunstenaars te kan werk,” sê Karla.

  • Vir meer inligting oor Karla & Kobus kyk gerus op hulle Facebook Fanpage, Karla en Kobus sowel as Karla Musiek SA. Karla & Kobus kan by 081 574 0876 gekontak word vir optredes of per e-pos by karlagouws17@gmail.com

Kobus & Karla.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article