NA slegs ’n jaar se jaag om ovaalbane, is renjaer Kelly Dowling (22) van Uitenhage aangewys as die Pink Rod ovaalbaankampioen.
Sy is verlede Saterdag as die eerste Pink Rod-kampioen van die Port Elizabeth Oval Track Raceway gekroon en is ook aangewys as die mees belowende nuwe drywer.
Pink Rods is ’n afdeling eksklusief vir vroue-ovaalbaanrenjaers en ’n gedeelte van die fondse van elke wedren gaan na die Kankervereniging van Suid-Afrika vir borskankerbewusmaking.
Kelly se loopbaan as ovaalbaan-renjaer het in Desember 2017 begin met “Ys Prinses”, haar betroubare 1660cc VW Golf. Sy beskryf haar verhouding met die Ys Prinses soos dié van die fliek Herby.
Sy het aan 18 wedrenne deelgeneem, waarvan 8 onder PEOTR se vaandel was. Van dié 8 wedrenne het sy 6 gewen en in die ander 2 was sy tweede.
Sy het al op verskeie bane meegeding soos by Victory Raceway, Oos-Londen, George en Oudtshoorn en elke keer op die podium geëindig.
Dié fyn meisie is baie beskeie en ’n mens sal eerder verwag om haar op ’n loopplank te sien as agter die stuur van ’n kragtige ovaalbaan-renmotor of “stock car”.
Kelly word as ’n aanwins vir die sport beskou, maar dit is nie hier waar haar talente stop nie! Sy het vanjaar haar studies aan NMU voltooi waar sy haarself as wiskunde en wetenskap onderwyseres bekwaam het.
Weereens het sy haarself gedruk en 9 onderskeidings behaal en haar graad Cum Laude geslaag, afgesien van ’n besige 2018 wedren-seisoen.
As stokperdjie beskou sy haarself as ’n voltydse Formule 1 drywer op haar Playstation 4.
Op die vraag of sy dié sport vir ander meisies sal aanbeveel was haar antwoord duidelik: “Elke sport het sy beserings, uitdagings en welslae. Ek kan wel getuig, vriendskappe is gesmee tydens my jaar as drywer. Aan my kritici wil ek dankie sê, aangesien ek kritiek as aansporing gebruik om myself te verbeter en my karakter te bou.”
Sy skryf haar sukses toe aan die vriendskappe wat sy met topdrywers van die land het, soos Tersius van Tonder van Kaapstad en Jethro Schwartz van Oos-Londen, wat haar ook van raad voorsien.
Kelly is Saterdag om 19:00 in aksie te sien by PEOTR in Mission Road. – HEILIE COMBRINCK