Ouma Alie (104) glo werk hou jou jonk

Ouma Alie Toring, een van Uitenhage se oudste inwoners, is in 1915 gebore en het op 6 Mei haar 104de verjaardag gevier.


Ouma Alie Toring van Uitenhage het op 6 Mei haar 104de verjaardag gevier. Foto:WESLEY KLUE

Ouma Alie Toring, een van Uitenhage se oudste inwoners, is in 1915 gebore en het op 6 Mei haar 104de verjaardag gevier.

In haar leeftyd was daar twee wêreld-oorloë en die Groot Depressie. Sy het die oorskakeling beleef van ponde en sjielings na rand en sent, van slingertelefone na slimfone, van perdekarre tot vandag se vuurwaens én sy het die Suid- Afrikaanse vryheidsstryd vir demokrasie beleef.

En ja, sy het op 8 Mei haar verantwoordelikheid as landsburger nagekom om te gaan stem!

Sy was haar eie wasgoed, maak haar kamer skoon en skuur selfs haar kookpotte blink.

Ouma Alie is in Middleton in die Karoo gebore. Sy het haarself bekwaam as ’n vroedvrou en het later jare met Freek Toring getrou. Vyftien kinders is uit die huwelik gebore waarvan twee later jare oorlede is.

Een van haar dogters Lydia Witbooi (75) sê, “ek glo my ma se geseënde jare is omdat sy glo ’n mens moet jou ouers eer.”

Ouma Alie is nog selfversorgend en aktief. Sy glo werk hou jou jonk. Sy was haar eie wasgoed, maak haar kamer skoon en skuur selfs haar kookpotte blink.

’n Kliniek is nie op haar lys vir besoeke nie, maar die kerk wel.

“Sy is lief vir werk. Sy sê altyd ’n besige mens is ’n gesonde mens. Daarom doen sy allerhande werkies by die huis. Sy leef in nederigheid teenoor die Here vir Sy genade in elke dag,” sê Lydia.

Ouma Alie woon in Rosedale, waar meeste van haar kind-ers en tientalle kleinkinders en agterkleinkinders woon.

You need to be Logged In to leave a comment.