Orgia met haar jongduif wat die naaswenner in die UD Federasie se 2022 18-duif wedvlugseisoen was.

Foto: Heilie Combrinck

Op Kariega is daar tydens vanjaar se duiwewedvlug-seisoen geskiedenis gemaak toe die eerste vroue-deelnemer ooit, ook aangewys is as ‘n kampioen.

Orgia Nell (79) het nadat haar man, Gert Nell, in 2019 as klubkampioen uitgetree het, met 24 van sy top duiwe wat oorgebly het, begin oefen. Sy het in 2021 by die Uitenhage Homing Society (UHS) aangesluit en was die eerste vrou wat op Kariega by ’n duiweklub aangesluit het.

UHS is een van vier duiweklubs in die Uitenhage Federasie.

Orgia is vanjaar aangewys is as dié federasie se algehele 18-duif kampioen. Die ander klubs is URPC, Rosedale, en UCPC.

“Wat my wen so goed maak en my so lekker laat voel, is dat daar met volspanne en 18-duifspanne gevlieg word. In die 18-duif afdeling, wat my duiwe gewen het, was daar 26 deelnemers. Maar ek was ook algeheel sesde in die federasie en al vyf voor my het met volspanne gevlieg,” sê Orgia.

“Dit was ‘n taai seisoen. Jannie Neveling se duiwe het my duiwe kwaai opdraande gegee. Dan is hulle voor en dan is my duiwe voor, maar uiteindelik het my duiwe my baie trots gemaak.”

Sy is sedert 1973, toe Gert met duiwewedvlugte begin het, betrokke in dié sport. Gert sê hy is baie trots op sy vrou. “Die UHS-klub is in 1915 gestig en daar was nooit ooit ’n vrouelid nie. My vrou is ’n regte Ystervrou. Sy het nie net die afgelope twee jaar uitsonderlik met haar duiwe presteer nie, maar het vir baie jare ook goed presteer in padwedlope. Ek het nog nie ’n vrou gesien wat so hard kan werk nie. As sy nie by die duiwe is nie, dan woel sy in die kombuis met die inlê van vrugte en groente.”

Orgia sê sy glo aan ’n skoon hok met goeie ventilasie en min duiwe per hok. Dit is in dié sport ook glad nie die gewoonte om duiwe name te gee nie, maar vir Orgia was daar ’n uitsondering.

“Sy naam is Mieliepit, want die eerste keer toe hy uit die nes kom, het hy dadelik mielies begin vreet. Duifies doen dit nooit nie; die kleintjies eet altyd fyn kossies, maar Mieliepit is anders. Hy is ’n besondere en pragtige duif en as ek in die hok ingaan, dan begin hy pronk.

“Ek is baie lief vir my duiwe. Elke keer voor ‘n wedvlug dan bid ek dat die Vader my duiwe moet bewaar. En na ’n wedvlug sê ek dankie dat al my duiwe veilig terug is by die huis.”

Orgia Nell, Uitenhae Homing Society posduifklub se eerste vroulid ooit, is die UD Federasie se algehele 18-duif klubkampioen.

You need to be Logged In to leave a comment.