=Despatch Opskop Fees het R10 000 oorhandig aan ACVV Huis Najaar. Van links is André van der Bank, Karina Pattinson, Belinda van der Bank, Annamarie van Heerden (Huis Najaar matrone) en Kotie Burger (ACVV Huis Najaar voorsitter). Foto:BRIDGET TAYLOR


MET honderde stoei-aanhangers om die kryt en meer as 3 000 feesgangers by die Despatch Opskop Fees, is die feesorganiseerders in hulle noppies oor die ondersteuning van super-plaaslike talent.

“Die XWE Rise of Champions stoei het die fees behoorlik met ’n bang laat afskop. Dit was ’n fees op sy eie en ons het net goeie terugvoering gekry. Oud en jonk, selfs tannies van Huis Najaar het dit vreeslik geniet,” sê Karina Pattinson, ’n organiseerder van die Despatch Opskop Fees.

“Ons is baie gelukkig met die ondersteuning, Saterdag is daar 3 019 besoekers deur die hekke. Die hoogtepunt was die Opskop Skouspel. Dit was ‘n belewenis om die 1 283 toeskouers te sien wat ons Oos-Kaap kunstenaars kom ondersteun het.

“Daar het soveel ure in die produksie gegaan en ek wil vir elke sanger, die klank- tegnikuste, al die borge en almal wat gehelp het sê julle is sterre!

“Baie dankie aan elkeen wat ons kom ondersteun het. Julle weet nie hoeveel dit vir ons beteken het nie,” sê Pattinson.

Die fees is aangebied om onder meer ACVV Huis Najaar op Despatch te ondersteun. ’n Oorhandiging van R10 000 is verlede Sondag aan die tehuis se bestuur gemaak.

Op die vraag of die organiseerders die fees weer volgende jaar gaan aanbied het Pattinson geantwoord: “Weer ‘n fees in die toe-koms? Hmm …ons wil net eers so bietjie rus, maar ons beplan ‘n Country Skouspel vir 2020,” sê Pattinson.

Die Despatch Opskop Fees is by die Despatch Rugbyklub se velde aangebied en slegs Oos-Kaapse sangers het aan die Skouspel deelgeneem.

You need to be Logged In to leave a comment.