MANNE wat hou van taai uitdagings en die moermeters koel hou terwyl hul lewens- en avontuurlus in die hoogste rat draai, vat môre die rofste Jam Jar Rally roete ooit in hul opgezoepte karre.
Vier reëls geld: ’n kar moet ouer wees as 30 jaar; die waarde moet minder as R30 000 wees; opgezoep is ’n moet en niks gewoons is aanvaarbaar nie; slegs 4 manne per span. Natuurlik is al die karre padwaardig en wettig op die pad.
Jam Jar gaan nie oor hoë km/h kook-’n- tekkie spoed nie … los dit is vir F1-manne. Jam Jar gaan oor byt-in-die-stof-spanwerk, respek, humor, onvergeetlike belewenisse en ’n vrag liefdadigheid in die kattebak.
Vier Uitenhagers pak vanjaar die Jam Jar aan in hulle 1984 Mercedes Benz 200.
“Die kar het ’n lewe begin as ’n ‘84 petrol Mercedes. Nou, met 250 000km op die klok, het dit ’n ander lewe gekry as ’n 2018 Camel Trophy Edition Merc-Rover,” sê Niekie Dorfling wat vanjaar sy debuut Jam Jar Rally doen.
Niekie se Merc-Rover pelle in die skel-oranje regte Camel-Landy-kleur kar, is Ryno van Biljon, Renier Nel en Dons Nel.
“Ons het die kar vir R10 000 in die Baai gekoop. Meganies is dit in ’n baie goeie toestand. Daar was so bietjie roes, maar ons het dit toege-Land-Rover.”
Dis rof – pak hamerboor in
Jam Jar Rally karre kom môre vanaf 06:30 by Something Good in die Baai bymekaar om 07:30 die pad te vat. Deelnemers sal dan eers weet hoe die roete loop. Al wat hulle reeds weet is dat dit rof gaan wees – só rof dat ’n hamerboor aanbeveel word as bagasie. Wen is nie ’n motief nie, maar kameraderie en klaarmaak. Daarom word daar oral langs die pad gestop om uitdagings aan te pak.
Kamerade Niekie, Ryno, Renier en Dons het alle modifikasies aan die Mercedes self gedoen en dit het hulle sowat nege weke se harde werk en kreatiewe-kuiers geneem.
Bosbreker en dakrak
Die manne het die suspensie gelig, ’n dak-rak (wat in die hoenderhok was) opgesit, ’n bielie van ’n bosbreker voor op die neus aan-gebring, geruite bordbeskerming op die bakwerk vasgemaak, sterk kolligte gemonteer en selfs tipiese Land Rover straalbreker-kabels aangebring.
“Om die suspensie gelig te kry was ’n groot missie. Veral om die langer coil springe (kronkelvere) weer terug te kry sonder die regte gereedskap. Dit het baie sweet en bier gekos om dit reg te kry,” sê Niekie.
Vrydag se eindbestemming vir vanjaar se Jam Jar Rally Extreme Edition is Steytlerville. Dié Karoovlaktes gaan lyk na iets uit ’n toneel van Priscilla Queen of the Desert of Mad Max, soos die karre daar rondry.
Die konvooi keer Sondag weer terug om die sirkelroete te voltooi by Something Good.
- Die vrag liefdadigheid wat elke deelnemende Jam Jar-kar in sy kattebak moet hê sluit in ’n minimum van vier stelle laerskool-kleredrag. Fondse sal ook aan Steytlerville se skoukomitee oorhandig word vir verbeterings aan die skougronde.